OUDTSHOORN NUUS - Die Proteas van Dysselsdorp het Sondag 5 Januarie vir 'n groot verrassing gesorg toe hulle die derde o.13-vlakkiekriekettoernooi gewen het. Die toernooi is aangebied deur die Polisiehoogte-sopkombuis en -nasorgsentrum.
Dié span het die Dragons van Oudtshoorn in 'n spannende eindstryd met 9 lopies geklop.
Die Proteas het eerste gekolf en 'n goeie telling van 80 op die telbord geplaas, danksy die goeie kolf- en boulwerk van Harno Marnewick.
Die Dragons kon nie die mas opkom nie en was almal uit vir 71 lopies met die kaptein Jadon Vermaak (24) en Jandre Samson (18) wat hardnekkig vasgeskop het.
In die twee halfeindstryde het die Proteas die Laeveld Stars van Oudtshoorn met 18 lopies geklop terwyl Dragons die Eagle Stars van Dysselsdorp in die ander halfeindstryd met 19 lopies verslaan het.
Die Dragons van Oudtshoorn wat in die eindstryd teen die Proteas van Dysselsdorp verloor het. Links staan adv. Michelle Weyers en regs Philli[p Seroux. Foto's: Garnett Wicomb
Andrew Baartman van Eagle Stars is aangewys as bouler van die toernooi en Jaiden Vermaak van Dragons as kolwer van die toernooi.
Eagle Stars van Dysselsdorp wat in die derde plek geeindig het.
Altesaam agt spanne, vier van Dysselsdorp en vier van Oudtshoorn, het vir vanjaar se toernooi ingeskryf.
Volgens Phillip Seroux maak dit deel uit van die sopkombuis en nasorgsentrum se skool vakansieprogram om kinders gedurende die vakansie besig te hou.
Hy het sy dank uitgespreek teenoor al die borge wat dit moontlik gemaak het om van die toernooi 'n sukses te maak met spesiale dank aan Jonathan Petersen, Jonathan Serfontein en Juniad Arries wat hom met die organisering bygestaan het, asook die vroue wat gesorg het dat almal genoeg te ete gekry het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’