OUDTSHOORN NUUS - Prostars- en Tornadoes-vlakkiekrieketspanne het verlede Sondag deurgedring na die eindstryd van die Oudtshoorn Big Bash T20-toernooi.
Die toernooi het twee maande gelede begin met die verdedigende kampioen Hungry Lions, Oukas Sunrisers, Champs, Firestones, Team Players, Underdogs, Legends en Barmy Army wat almal oor hierdie tydperk uitgeskakel is.
In die wedstryd tussen Tornadoes en Firestones wat agter die kliniek in Toekomsrus gespeel is het die Tornadoes eerste gekolf en 'n intimiderende telling van 128 lopies op die telbord geplaas.
Ducayne Plaatjies. Foto verskaf
Ducayne Plaatjies was hul beste kolwer met 69 lopies en het ook 'n briljante vertoning met die bal gelewer toe hy vyf paaltjies vir slegs 14 lopies laat kantel het. Firestones was in hul kolfbeurt van meet af aan onder druk met hul top orde wat spotgoedkoop uitgehaal is. Mickey Donson was al kolwer wat enigsins weerstand gebied het met 'n paar goeie grenshoue. Na sy vertrek is die Firestones almal uitgeknikker vir 70 lopies wat aan Tornadoes 'n oorwinning van 58 lopies besorg het.
In 'n dramatiese wedstryd tussen Hunters en Prostars kon die manne in groen die wedstryd in die laaste boulbeurt eers die knoop deurhaak. Hunters het 94 lopies aangeteken met Prostars wat die telling met die tweede laaste bal van die wedstryd bereik het.
Tornadoes en Prostars sal nou op Sondag
3 Desember teen mekaar te staan kom in die eindstryd.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’