OUDTSHOORN NUUS - ProStars en Legends het verlede Sondag deurgedring na die eindstryd van die Oudtshoorn Big Bash 100-Bal wat eerskomende naweek in Leeuweg gespeel word.
In die eerste wedstryd tussen ProStars en die gunsteling Tornado's het die manne in blou besluit om eerste te kolf. In hul toegelate 100 balle kon hulle 'n middelmatige 59 lopies op die telbord plaas.
Suinige boulwerk deur ProStars het verhoed dat Tornado's 'n goeie begin met die kolf gekry het en na die eerste 50 balle het hulle slegs 22 lopies op die telbord gehad vir die verlies van vyf paaltjies.
Tornado's se bouler Zandrè Coerecius stoom in met die bal.
ProStars se kolfbeurt het ook nie te waffers begin nie en na hul eerste 50 balle was hulle ook vyf paaltjies plat vir 'n skamele 19 lopies. Dulin Matthews (28*) en Anthony Soldier (12*) het egter vasgekap met 'n wenvennootskap van 41 lopies. Die teiken is bereik met 10 balle nog oor.
Die kaptein van ProStars, Gavin Pietersen in aksie.
In die tweede wedstryd op dieselfde veld het Legends korte mette van Unbeatable Stars gemaak en hulle vir 34 lopies almal uitgeboender. Legends het die teiken bereik met 70 balle oor.
Legends en ProStars sal mekaar nou pak in die eindstryd van die BBL-100-bal reeks, wat die naweek om 15:00 in Leeweg sal begin.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’