OUDTSHOORN KRIEKETNUUS - Die aanvang van vanjaar se OPL-vlakkiekriekettoernooi het die afgelope naweek vir heelwat verrassings gesorg.
Die viermalige en huidige verdedigende OPL kampioene, Firestones het teen alle verwagtinge teen die Pro Stars in die hek geduik.
Die Firestones is vir 'n skamele 38 lopies uitgeboender op 'n blad wat boulers soos 'n handskoen gepas het.
Pro Stars het in antwoord die wedstryd net-net met een paaltjie beklink. Vir Firestones het Damion Esau drie paaltjies vir slegs 12 lopies platgetrek. André Piedt van die Pro Stars het een paaltjie vir slegs twee lopies laat kantel.
Die nuwelinge in die liga, Old Crocks Ostrich Giants, het in sy eerste wedstryd die Oukas Flights bloedneus gegee. Die Oukas Flights kon slegs 64 lopies almal uit, aan teken. Die Crocks het in hul kolfbeurt gewys daar is sommer nog hope murg in hul bene en die teiken in die 12de boulbeurt afgeblits met twee paaltjies nog in die bank.
Pieter Stuurman, kaptein van die Old Crocks het gesê dat Sondag se wedstyd gewys het dat die ou manne nie 'n tree hoef terug te staan vir die jonger manne nie. "Ek dink ons het hierdie oorwinning 'n duidelike boodskap gestuur dat die volgende ses groepwedstryde geensins "a walk in the park" vir die ander spanne gaan wees nie. Wat diepte in ons span betref het ons tans 'n groep van 26 spelers wat kan roteer sou die nood druk, " het Stuurman gesê.
Nog uitslae:
- Underdogs wen Uzzis met 2l lopies
- Neppon Warriors klop Rebels 106 lopies
- Hungry Lions klop Dream Team met ses paaltjies
André Piedt van die Pro Stars.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'