OUDTSHOORN NUUS - Die Pro Stars-vlakkiekrieketspan het die afgelope naweek die gedugte Firestones in 'n halfeindwedstryd van die Big Bash-T20-ligatoernooi (BBL) met 16 lopies gewen.
Die toernooi word deur die liefdadigheidsorganisasie, Sport Buddy Charity, aangebied.
Firestones het die loot gewen en besluit om Pro Stars in te stuur om te kolf.
Firestones se boulaanval het binne die eerste vyf boulbeurte drie paaltjies platgetrek wat aan hulle 'n vroeë voorsprong besorg het.
Benjamin Saaiman (36) en Jandré van der Horst (31) het egter vasgeskop en Pro Stars se wankelrige bootjie na kalmer water gestuur.
Nog 'n waardevolle bydrae met die kolf deur Henricko Manuel (26) het verseker dat Pro Stars 'n mededingende teiken van 103 lopies op die telbord kon plaas.
In antwoord op Pro Stars se eindtelling kon Firestones se topvier kolwers nie hond haaraf maak met die Pro Stars se bouleenheid van Gavindhino Peterson, Dillon Fielies en Justin Hendriks wat verwoesting gesaai het. Damion Esau (42*) van Firestones het moedig 'n alleenstryd geveg, maar op die einde van die dag was die kolftempo van 15 lopies per boulbeurt op 'n stadium net te veel.
Firestones is uiteindelik vir 87 lopies beperk wat aan Pro Stars 'n oorwinning van 16 lopies besorg het. Pro Stars het oor die afgelope paar maande 'n gevreesde eenheid gevorm wat sedert die begin van die BBL-toernooi op elke veld as span 'n 100 lopies kon aanteken.
In nog 'n halfeindwedstryd het die Hungry Lions die Spartans ore aangesit en hul plek in die eindstryd teen Pro Stars op 13 Februarie op Mandelapark, bespreek.
Benjamin Saaiman se anker rol was goud werd.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'