OUDTSHOORN SPORTNUUS - Die Oudtshoorn Titans-vlakkie-krieketspan het die afgelope naweek Oudtshoorn se vlag hoog laat wapper toe hulle George se bestes in twee T20-wedstryde in Pacaltsdorp oortuigend verslaan het.
Titans verteenwoordig die dorp se beste vlakkie-krieketspelers. In die hoofwedstryd het die Titans 211 lopies gemoker waarna GRSD (George Rural & Sport Development) vir slegs 57 lopies in die sewende boulbeurt uitgeboul is.
Die Titans se helde was Jermaine le Kay met 'n sprankelende 100-tal van slegs 31 balle en dan het ook Juan Murphy ook amok gesaai met sewe paaltjies. Murphy het goeie ondersteuning gekry van Jean Campher wat op sy beurt drie paaltjies platgetrek het.
In die voorwedstryd was Titans met vyf paaltjies baas teen Convent X1. Convent kon 159 lopies aanteken waarna Titans die teiken in die 16de boulbeurt reeds bereik het met vyf paaltjies nog staande.
Dan het die besoekers se Willem Goliath se verwoestende kolfbeurt van 70 lopies tesame met Damion Esau (29) en Le Kay (39) die wa deur die drif getrek.
Die Titans se twee kapteins, Cameron Rhoode en Jermaine le Kay, was dit eens dat albei oorwinnings 'n spanpoging was en was vol lof vir die span se kliniese vertoning.
"Albei wedstryde is in goeie gees gespeel, baie dankie ook aan GRSD vir 'n puik georganiseerde dag. George se streek het definitief talent en sal beslis in die toekoms uitblink."
Sammy Vorster, voorsitter van GRSD, het die Titans gelukgewens met hul vertoning en gesê dat George se bestes binnekort weer Oudtshoorn sal besoek om die bordjies te verhang.
Alert Patrol het die vervoerkoste vir die Titans na Pacaltsdorp gedek en Dryland Event Management het hul kleredrag geborg. GRSD se borg wat die dag moontlik gemaak het was Garden Route Community Safety Policing Centre.
Die seëvierende Titans. Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'