KRIEKETNUUS - Krieketliefhebbers kan uitsien na die nuwe professionele vrouekrieketliga van Suid-Afrika wat eerskomende Saterdag by die Oudtshoorn-sportterrein (REC) sal begin.
Die plaaslike Six Gun Grill Garden Route Badgers-vrouespan is ook deel van die spanne wat sal deelneem in die liga en hul eerste wedstryd is eerskomende Saterdag teen die Fidelity Titansby in KSA se Top-6 Eendagbekerreeks.
Die volgende dag (Sondag) sê hulle die Titans in 'n T20-uitdaagwedstryd aan.
Ongelukkig sal die tuisspan sonder hul sterre Tazmin Brits en Mieke Ridder wees wat opgeroep is vir interna-sionale diens by die Proteas nasionale vrouespan.
Plaaslike helde soos die kaptein, Jané Winster, Miceala Andrews en Haroline Rhodes sal saam met nuwe gekontrakteerde spelers soos Chantelle van Schoor, Tabita le Grange, Askaha Nyovane, Julia Hoal, Koketso Manyaga en Khyayakazi Mathe. Die afrigter vir die afgelope twee seisoene, Martelize van der Merwe, sal steeds in beheer van die span wees.
Winster, het in 'n onderhoud met Oudtshoorn Courant gesê dat die spelers baie trots en bevoorreg is om in 'n tydperk te leef waar vrouekrieket tot sy volle reg kom.
"Die Badgers is tans nasionaal in die topses spanne en ons beskik ook oor 11 gekontrakteerde spelers. Hierdie is uiteraard 'n geleentheid vir die spelers om hul vaardighede en leefwyse op te skerp omdat krieket nou meer as ooit, jou 9 tot 5 werk is. Dis voorwaar 'n geskied-kundige oomblik."
Wat die naweek se wedstryde betref, het Winster gesê dat die span se staatmakers soos Brits, Ridder, Derksen definitief gemis sal word, maar dat dit weer 'n gulde geleentheid is vir ander spelers is om hand hoog op te steek.
"Ook 'n speler soos Miceala Andrews wat tans beseer is, se ervaring en veelsydigheid sal gemis word. Die spandiepte sal nou getoets word en dit alleen, bring groot opwinding. Die girls kan nie wag nie en die algemene sentiment onder ons is om die Badgers se naam trots te maak in die hele Suid-Afrika deur trofeë te wen," sê Winster.
Die span vir die naweek is:
- Chantelle van Schoor
- Tabitha la Grange
- Bianca Figeland
- Asakhe Nyovane
- Julandi Saayman
- Julia Hoal
- Koketso Manyaga
- Haroline Rhodes
- Jané Winster
- Khayakazi Mathe
- Mariana Breedt
- Faith de Jonck
- Kelsey Stuurman.
Julandi Saayman
Jané Winster. Foto's: Wyndham Ewerts
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’