So sê die kaptein van PomperZ, Lendl Sauls, wat in vier huldigingswedstryde teen die Pora's Aksie Krieketklub van Kaapstad gespeel het om hulde aan Gurthwin "Gus" Lekay en Dale "Pora" Tait, wat albei lief was vir die sportsoort, te bring.
Gurthwin het op 30 April 2011 op 30-jarige ouderdom tragies gesterf toe sy bakkie sowat 5 km vanaf die Calitzdorp Spa omgeslaan het. Hy was 'n siviele ingenieur by die Oudtshoorn Munisipaliteit en projekbestuurder van die raad se werkskeppingsprojekte.
Dale is op 8 Februarie vanjaar op 31-jarige ouderdom oorlede nadat hy nierprobleme ondervind het. Hy was 'n IT-dosent aan die Suid-Kaap Kollege se Oudtshoornkampus.
"Ons speel vandag om die lewens van twee van ons vriende te vier. Albei het 'n impak op die lewe gemaak en het jonk gesterf," het die onderkaptein van die Pora's, Luke Messiahs, gesê. Die span is ter herinnering aan Dale in Kaapstad gestig.
Volgens Sauls het Oudtshoorn met die dood van Gurthwin een van sy nederigste en suksesvolste inwoners verloor.
"Ou Gus en Pora was albei 'n inspirasie vir baie van ons en dit is wat ons elke keer met ons sal saamdra. Altwee was mens-mense."
Die twee jong mans se ouers was ook teenwoordig en het die twee spanne vir hul mooi gebaar bedank.
Lionel Tait, pa van Dale, het die dag as 'n monument vir Gurthwin en Dale beskryf. Elke span het 'n geraamde portret aan die ouers van die twee jong mans oorhandig as blyk van herinnering. Fondse wat met die dag se krieket ingesamel is sal later aan een of twee minder-bevoorregte instansies of kleuterskole geskenk word.
Sauls het ook die eienaar van die sportarena bedank vir sy behulpsaamheid en Oudtshoorniete aangemoedig om aksiesport saam met hul kinders by die arena te kom geniet in plaas daarvan om die gemeenskap te sien verval in dwelm-en drankmisbruik.
Hoewel die tellings minder belangrik was, was dit die PomperZ's wat in al vier wedstryde koning gekraai het.

Die span van die Pora's Aksie Krieketklub van Kaapstad saam met Dale se ouers, Lionel en Dulary Tait. Foto's: Garnett Wicomb