KRIEKETNUUS - Alan Kruger (39), is onlangs as hoofafrigter vir SWD-krieket vir die 2019/20 seisoen aangestel. Kruger neem die leisels by Bakier Abrahams oor wat 'n hulpafrigtingspos by die Warriors aanvaar het.
Kruger, wat voorheen ook die hoofafrigter by Griekwas en die Knights was, is 'n voormalige provinsiale krieketspeler en sy loopbaan het vanaf 2000 tot 2015 gestrek.
In daardie tydperk het hy 111 eersteklas-, 100 eendagwedstryde en 25 twintig20-wedstryde vir Griekwas en die Knights (voorheen bekend as die Arende) gespeel.
Kruger was ook handig met die kolf en het 5 153 lopies met ses hondertalle en 'n hoogste telling van 221* in sy krieketloopbaan gemoker. Hy het ook 218 paaltjies op eersteklasvlak met 'n beste boulontleding van 6/37 platgetrek.
Volgens Kruger is hy verheug oor die geleentheid om af te rig by 'n unie wat deur die jare kwaliteit krieketspelers opgelewer het.
"Ek is opgewonde om in hierdie posisie te begin sodat ons 'n mededingende krieketspan in die veld kan stoot wat in die toekoms trofeë vir die SWD kan wen wat hulle so ryklik verdien. Die Covid-19-pandemie het ons planne natuurlik effens belemmer en ek hoop dat sodra alles weer normaal is, ons met die harde werk kan begin," het hy gesê.
Die uitvoerende hoof van SWD-krieket, Albertus Kennedy, het bevestig dat daar baie aansoeke vir dié pos was.
"Kruger se voorlegging tydens die onderhoudproses sowel as sy vorige afrigtingservaring op franchisevlak, het hom egter die voorsprong gegee. Wat die scenario-beplanning betref, verwag ons om in Oktober te begin oefen en dat ons provinsiale kompetisie tussen Januarie en April volgende jaar gespeel sal word.
"Ons besef dat hierdie seisoen buitengewone uitdagings vir dié span en afrigter sal inhou. Ons is egter vol vertroue dat Alan en die gekontrakteerde span die gewenste resultate sal lewer."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'