OUDTSHOORN KRIEKETNUUS - Die Knights het verlede Saterdag by die Oudtshoorn-sportterrein in 'n Momentum One day Cup-wedstryd die Cape Cobras oortuigend met sewe paaltjies geklop.
Die Cape Cobras se nederlaag het ook 'n einde gebring aan hul oorheersing op dié krieketveld nadat hulle in vorige kragmetings twee keer met die Warriors en met die Lions afgereken het.
In Saterdag se wedstryd het die Cobras die loot gewen en besluit om eerste te kolf waarna hulle vir slegs 172 lopies in hul toegelate 50 boulbeurte uitgeboender is.
Aviwe Mgijima (44)* en Pieter Malan (29) was die enigste kolwers wat enigsins weerstand teen die Knights se gedissiplineerde boulwerk gebied het. Vir die Knights het die draaibal-bouler, Shaun von Berg die hart uit die Cobras se toporde geruk met drie vinnige paaltjies in sy eerste drie boulbeurte.
Hy het uiteindelik met indrukwekkende boulsyfers van drie paaltjies vir slegs 23 lopies in 10 boulbeurte geëindig. Von Berg is ook as die speler van die wedstryd aangewys. Die Knights het in hul lopie jaagtog die Cobras se teiken reeds in die 27ste boulbeurt verbygesteek met sewe paaltjies nog staande.
Patrick Kruger (60), Jaques Snyman (45) en Keegan Petersen (42*) se stewige bydraes met die kolf het verseker dat daar nooit in enige stadium twyfel was wie met die louere in dié wedstryd sou wegstap nie. Die SWD se Tsepo Ndwandwa het in sy debuutwedstryd vir die Cobras die paaltjie van Snyman platgetrek.
Hierdie bonuspunt sege oor die Cobras het verseker dat die Knights steeds 'n realistiese kans het om in die halfeindstryd van dié toernooi te speel. Daarenteen kon die Cobras nog net twee oorwinnings in agt wedstryde behaal.
Shaun von Berg het die hart van die Cobras se toporde uitgeruk met sy draaiballe. Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'