OUDTSHOORN NUUS - Die voormalige krieketspeler en -administrateur, Christopher Andries (Criba) (65), is Saterdag 4 Julie tydens 'n stampvol roudiens in die St. Simons Anglikaanse Kerk gegroet.
Hy word beskryf as 'n nederige leier, mentor en vaderfiguur wat 'n blywende nalatenskap in die plaaslike krieketgemeenskap laat.
Andries, wat op 26 Junie ná 'n kort siekbed oorlede is, was vir dekades lank 'n toegewyde lid van die Union Stars-krieketklub en het 'n belangrike rol in die ontwikkeling van talle spelers en administrateurs gespeel.
Union Stars se voorsitter, Michelle Weyers, het hom as een van haar grootste krieketmentors beskryf, saam met wyle Simon Swigelaar. "Uncle Chris was 'n besonderse mens. Hy was trots op elke speler en het elkeen belangrik laat voel. Hy het in sy nederigheid 'n onmeetbare impak op my en op ons hele klub gemaak."
Volgens Weyers het Andries geglo dat ware leierskap in diensbaarheid lê.
"Hy het altyd gesê jy kan nie lei as jy nie dien nie. Sy woord was sy eer, en dit was nooit vir hom belangrik om op die voorgrond te wees of erkenning te ontvang nie."
Twee van Union Stars se belowende jong spelers, Jean Heunis en Harolene Rhodes, het Andries bedank vir die rol wat hy in hul krieketloopbane gespeel het.
Heunis het gesê Andries het hom geleer dat krieket oor veel meer as oorwinnings gaan. "Hy het altyd na die kleiner dinge gekyk en ons geleer wat dit beteken om die spel met integriteit te speel."
Rhodes het gesê Andries het sy uitgebreide krieketkennis met almal gedeel en jong spelers behandel asof hulle sy eie kinders was.
Die hoof- uitvoerende beampte van SWD Krieket, Albertus Kennedy, het gesê Andries het die woorde van die voormalige Springbokafrigter, Kitch Christie, uitgeleef: dat respek nie geëis kan word nie, maar deur jou optrede en die manier waarop jy mense behandel verdien word. "Criba het nie net die respek van sy spanmaats geniet nie, maar ook dié van sy teenstanders, omdat hy die spel altyd met gesonde sportmangees benader het."
Kennedy het ook hulde gebring aan Andries se bydrae tot die ontwikkeling van verskeie spelers wat later op hoë vlak presteer het, onder andere die Protea-snelbouler Ottniel Baartman, Johan Weyers, Gurshwin Rabie, Micaela Andrews en Jane Winster.
Andries word oorleef deur sy vrou, Terenese, sy kinders, Curtley en Erin, hul eggenote, en vier kleinkinders.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’