OUDTSHOORN KRIEKETNUUS - Die Firestones-vlakkiekrieketspan het verlede Sondag die Legends in die eindstryd van die Oudtshoorn Premierliga vlakkiekrieket-ontwikkelingstoernooi (OPL) voor 'n groot skare in 17de Laan Bridgton geklop.
Hierdie oorwinning het meegebring dat die Firestones nou vir die vyfde keer as oorwinnaars van die OPL gekroon is.
Sondag moes die manne in rooi egter bloedsweet om die wa teen 'n begeesterde Legends deur drif te trek.
Die weer het ook saamgespeel met geen son in sig - ideale toestande vir toeskouers en spelers.
Die Legends het eerste gekolf en ondanks goeie boulwerk deur die Firestones, koelkop gebly en 'n mededingende totaal van 100 lopies vir die verlies van sewe paaltjies in hul toegelate 20 boulbeurte op die telbord geplaas.
Hul openingskolwer, Ruduaan Oktober het sy span se beurt geanker en 'n waardevolle 38 lopies aangeteken.
Die Firestones se kolfbeurt het wankelrig begin en hulle was op 'n stadium vyf paaltjies plat vir slegs 55 lopies in die 11de boulbeurt.
Dis toe dat die ervare speler Petrus "Pietie" Fredericks na die kolfkampie gekom het, en die res, soos hulle sê, is geskiedenis.
Fredericks, wat 'n onoorwonne 23 lopies (insluitend twee sesse en twee viere) aangeteken het, het tydens 'n onderhoud met Oudtshoorn Courant gesê dat sy vennootskap met die aanvangskolwer, Jaydriaan Plaatjies (27 lopies) deurslaggewend was.
"Ons twee het presies geweet dat ons slegs een massiewe boulbeurt nodig gaan hê om die wedstryd te wen. Jaydriaan se rotsvaste beurt het my egter die vryheid gegee om my kans mooi af te wag om 'n bouler van die Legends te teiken. Al ons planne het mooi in plek geval, en kon ek my skouers oopmaak om die reusehoue te speel wat my span nodig gehad het."
Met drie boulbeurte oor, en die Firestones wat 27 lopies vir n oorwinning kort, het Damion Esau ingestap en 'n warrelwind onoorwonne 18 lopies gemoker (drie sesse) om die oorwinning te beklink.
Op hierdie stadium het die Firestones se ondersteuners uit pure ekstase op die veld gehardloop om die oorwinning met die span te vier.
Die Legends se kaptein, Jean Campher, het sy spelers na die wedstryd geloof vir die intensiteit waarmee sy span gespeel het om sodoende 'n uiters mededingende finaal op te dis.
Die OPL-koördineerder, Gavin Pietersen, het al die borge bedank.
Petrus Fredericks van Firestones speel 'n kaphou.
Howard Hendriks van die Legends speel 'n trekhou. Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'