OUDTSHOORN NUUS - Die Firestones-vlakkiekrieketspan het Sondag vir die tweede agtereenvolgende jaar die Herrie-wisseltrofee gewen toe hulle die jaarlikse Oudtshoorn Premierliga (OPL) Sportontwikkelings-vlakkiekriekettoernooi op die ou rugbyveld van die destydse Onderwyskollege Suid-Kaapland gewen het.
Die toernooi het op 'n anti-klimaks geëindig toe Spartans na 'n onderbreking van langer as 'n uur weens 'n stukkende bal, geweier het om verder te speel omdat die lig volgens hulle glo te sleg was.
Firestones het eerste gekolf en 99/7 aange-teken. Spartans het verder gekolf toe 'n nuwe bal uiteindelik gevind is maar met sy telling op 67/7 besluit om nie verder te speel nie.
Die organiseerders het besluit om die wedstryd aan Firestones toe te ken omdat spel nie deur die skeidsregters gestaak is nie.
In die wedstryd om die derde en vierde plekke het Team Players die Legends met 40 lopies geklop.
Team Players het eerste gekolf en in sy toegelate 20 boulbeurte 97 lopies aangeteken, waarna Legends vir 57 uitgehaal is.
Die spelers van Firestones met die Herrie-wisseltrofee wat hulle Sondag vir die tweede agtereenvolgende jaar gewen het.
In 'n wedstryd vir spelers o.13 waaraan tien spanne deelgeneem het, het die Lane Boys die Hopes met vyf paaltjies verslaan. Hope het
eerste gekolf en in sy sewe toegelate boulbeurte 54 lopies aangeteken, waarop die Lane Boys die wenlopies met nog twee balle oor aangeteken het.
In die eindstryd vir o.7's waaraan agt spanne deelgeneem het, het die Young Players vir Star Wars met twee lopies geklop.
Gavin Pietersen, hoof uitvoerende beampte van die OPL hetsy kommer uitgespreek oor die optrede van Spartans en gesê dat 'n tugverhoor beslis gehou sal word.
Volgens hom word dissipline voorop gestel en dat dit van die alledaagse uitdagings is waarmee die organisasie te doen kry.
"Die breek van die bal was wel 'n probleem maar ons het met die kaptein van Spartans gepraat. Hy het versoek dat die wedstryd uitgestel word maar dit was nie moontlik nie omdat die lig nog goed genoeg was en daar ook nie beskikbare datums is nie. Die SUFF Top 4 toernooi neem komende naweek in aanvang," het Pietersen gesê.
Die Young Players van die Lane, Bridgton
ARTIKEL: GARNET WICOMB, OUDTSHOORN COURANT KORRESPONDENT
'Ons Bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'