OUDTSHOORN SPORTNUUS - Dinge is tans besig om vuurwarm te raak in die gewilde Big Bash (BBL) Honderdbal vlakkiekriekettoernooi wat deur die bekende liefdadigheidsgroep, Sport Buddy, aangebied word. Hierdie toernooi is 'n eerste vir Oudtshoorn en het sy oorsprong van die gewilde Hundred Ball-kriekettoernooi wat in Engeland gespeel word deur van die beste spelers wêreldwyd.
Tans is daar vyf spanne wat meeding in die toernooi wat Hungry Lions, Champs, FireStars, Tornadoes en Teamplayers insluit.
Met die tweede ronde van die toernooi wat eerskomende naweek begin, het die FireStars verlede Sondag in 17de Laan (Bridgton) sy stempel op die toernooi afgedruk en 'n allemintige 132 lopies in hul toegelate 100 balle aangeteken - die tweede meeste in die toernooi tot dusver na die Hungry Lions vroeër in die toernooi 142 lopies kon opstapel.
FireStars het aanvanklik hul toporde vir relatief goedkoop verloor, maar hul middelordekolwer, Henry Olckers, het die spreekwoordelike kastaiings briljant uit die vuur gekrap met 'n warrelwind 48 lopies.
Olckers het ook in sy span se boulbeurt die toernooi se eerste leë boulbeurt afgestuur wat 10 balle ingesluit het, 'n seldsame poging in 'n formaat wat ontwerp is om die langsteel in te lê.
Die telborddruk om teen bykans agt lopies per boulbeurt te kolf teen die FireStars se suinige boulwerk was vir die Teamplayers een berg te groot om te klim en is hulle uiteindelik vir 32 lopies uitgeboender.
In nog 'n BBL Honderdbal-wedstryd het Hungry Lions die Champs op die oop stuk veld by die Toekomsrus-kliniek met 56 lopies gewen nadat hulle die loot gewen, eerste gekolf en 126 op die telbord geplaas het.
Die Champs het 'n dapper vertoning gelewer in hul antwoord met 70 lopies almal uit en sal weet dat harde werk vir hul voorlê as hulle ambisies koester om in die finaal op 11 Desember te speel.
Die puntestand na ses wedstryde is as volg:
- Hungry Lions - 18
- Tornadoes - 14
- FireStars - 14
- Champs - 10
- Teamplayers - 10
Wedstrydbepalings vir die naweek (Sondag)
- Hungry Lions teen Tornadoes
- 14:30 by Die Kuil ( Toekomsrus-kliniek)
Champs vs FireStars
- 10:00 by Malley Park (Aurial Kollege)
Juandre 'Jimmy' van der Horst was een die FireStars se voorste boulers. Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'