KRIEKETNUUS - Die FireStars-vlakkiekrieketspan het Sondag vir 'n opskudding gesorg toe hulle Hungry Lions in die Big Bash Honderd Bal-eindstryd met 5 paaltjies geklop het.
Die wedstryd was voor 'n groot skare in Die Kuil agter Toekomsrus-kliniek gespeel. Met hierdie oorwinning het die FireStars R 2 000 in harde kontant gewen.
Die BBL Honderbalreeks is deur die nie-winsgewende organisasie, Sport Buddy aangebied. Hungry Lions het die afgelope jaar al wat trofee is in vlakkiekrieket ingepalm en die verwagting was dat Firestars harde bene sou kou om die Lions teen alle verwagtinge te klop.
Lions het eerste gekolf en 85 lopies opgestapel in hul toegelate 100 balle. Die Lions se aanvangspaar, Cameron Rhoode (kaptein) en Ricardo Peterson, is vir relatief goedkoop uitgehaal wat die druk op die middel en laerorde uit die staansspoor geplaas het. Dit was slegs Jason "Stoomie" Jasper wat met 'n vegtende 27 lopies weerstand kon bied teen 'n omgesukkelde Firestars-boulaanval.
FireStars se lopie-jaagtog het self wankelrig begin met drie kolwers terug in die pawiljoen vir slegs 15 lopies voordat Dimitri "Meaty" Kampher (40 onoorwonne lopies) en Jeandré "Jimmy" van der Horst (20 onoorwonne lopies) die skip na veilige waters gestuur het vir 'n oorwinning wat nog lank onthou sal word.
FireStars het uiteindelik die teiken bereik met 7 balle nog oor. Faizle Lewis van die Champs is aangewys as speler van die toernooi danksy 'n totaal van 18 paaltjies en 149 lopies in die reeks. Vir sy uitmuntende vertoning het Lewis R500 kontant en twee splinternuwe pette (R700) ontvang plus 'n geskenkbewys van R1 500.
Borge bedankings
- Raadslid Rayno April
- CP Nel Museum
- Rutger Boshoff
- Louis Fourie
- De Jagers-klerewinkel
Faizle Lewis van die Champs is aangewys as speler van die toernooi danksy 'n totaal van 18 paaltjies en 149 lopies in die reeks.
Jeandré "Jimmy" van der Horst maak sy skouers oop vir 'n sierlike ses. Foto's: Wyndham Ewerts
Van links is Wyndham Ewerts (toernooi-organiseerder), Damion Esau (FireStar-kaptein) en Dimitri Kampher (speler van die wedstryd). Foto: verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'