OUDTSHOORN NUUS - Die span van De Hoop het Sondag op die Volmoed-rugbyveld die o.13 ontwikkelings-vlakkiekriekettoernooi van die Oudtshoorn Christelike Jeugforum (OCJF) gewen toe hy die span van Matjiesrivier in die eindstryd met vier lopies geklop het.
Die toernooi, was volgens Phillip Seroux, projekbestuurder van OCJF, die hoogtepunt van die skoolvakansieprogram vir leerders van plaasskole in die Oudtshoorn-distrik.
De Hoop het eerste gekolf en is in 11,2 boulbeurte vir slegs 35 lopies uitgeknikker, maar Matjiesrivier kon nie daarin slaag om die lae teiken te bereik nie en is in die dertiende boulbeurt almal vir 31 lopies uitgeboul.
De Hoop het in sy halfeindstryd vir Volmoed geklop, terwyl Matjiesrivier met Rooiheuwel afgereken het. Die ander spanne wat aan die toernooi deelgeneem het was, Schoemanshoek, Buffelsdrift, Lategansvlei en Warmbad.
Volgens Seroux was die toernooi, wat verlede jaar op Rooiheuwel afgeskop het, baie suksesvol danksy die samewerking van die departement van maatskaplike dienste, Kindersorg en die ACVV met borgskappe van Sasko, MML Transport en SWD-krieket sowel as die bystand van die Rainbow-ontwikkelingsprojek onder leiding van Gavin Pietersen.
Die span van Matjiesrivier het goeie rekenskap van homself gegee.
Pietersen het 'n beroep op al die organisasies gedoen om nie nou op hul louere te rus nie, met 'n spesiale pleidooi aan SWD-krieket om dit te oorweeg om in die toekoms krieketklinieke in die landelike gebiede aan te bied wat uitgesluit word wanneer dit kom by sportontwikkeling.
'n Bedrag van R1 000 wat deur Sasko as prysgeld geborg is, sal volgens Seroux aangewend word om vir die 24 spelers van De Hoop en Matjiesrivier skryfbehoeftes te koop.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’