OUDTSHOORN KRIEKETNUUS - Die OPL-T20-vlakkiekrieket-toernooi het verlede Sondag ten einde geloop met Neppon Warriors en Old Crocs wat in die eindstryd teen mekaar kragte gemeet het.
Die Warriors se jong span het die eindstryd met 'n indrukwekkende onoorwonne rekord binnegekom, maar het uiteindelik met ses paaltjies teen die Crocs vasgeval.
Die Crocs-spelers se ervaring was deurslaggewend om hul eerste beker as nuweling in die toernooi te wen.
Die Warriors het die loot gewen, eerste gekolf en 'n totaal van 80 lopies aangeteken - 'n redelike teiken op 'n berugte Mandelaparkveld bekend vir sy oneweredige wip. Willem Goliath was die Warriors se beste kolwer met 29 lopies.
Die Crocs het egter in hulle kolfbeurt die telborddruk maklik verwerk en na sewe boulbeurte was dit reeds duidelik dat die manne in groen met die louere sou wegstap. Warren Severius (26) en Marcello Piedt (19) het die wind uit die Warriors se seile geneem met hulle aanvallende benadering. Na dié twee se vertrek het die kaptein, Pieter Stuurman, en Merlin Masimela die wedstryd in 'n japtrap met nog vyf boulbeurte oor, beëindig.
Na die wedstryd het Derick Olifant, die Warriors se kaptein, die Crocs gelukgewens met hul oorwinning en gesê dat sy span volgende jaar sterker sal terugkeer. "Ek dink as my span so 20 of 30 lopies meer gehad het kon ons die Crocs onder ernstige druk gesit het, maar dit was ons nie beskore nie."
In die houtlepelwedstryd het die Firestones die Lions gemaklik met ses paaltjies geklop.
Die Lions kon 81 lopies vermag in sy toegelate 20 boulbeurte waarna die Firestones hul teiken in die 18de boulbeurt verbygesteek het.
Die twee spanne se kapteins, Johben Barends (21) en Kallah Pietersen (24), het van voor gelei met die kolf.
In die Pro10-liga-eindstgryd het die Spartans die Super Rebels met 72 lopies afgeransel.
Die vier topspanne in elke groep in die OPL-T20-toernooi sal eerskomende Saterdag in die
Top-8-toernooi meeding. Gavin Pietersen, uitvoerende beampte van die OPL-vlakkiekriekettoernooi het by navraag gesê dat die organisasie nie verantwoordelikheid kan neem vir die skare wat by die wedstryde opdaag nie.
"Ons respekteer die land se wette en voorbeeld daarvan was die feit dat ons alle krieket gestop het tydens vlak 4 van die Covid-19-regulasies.
"Die spelers wat in Sondag se wedstryde gespeel het was minder as 'n 100 persone soos wat die wet vir buitemuurse byeenkomste vereis. Dit moet ook op rekord gesit word dat ons geen toeskouers na ons wedstryde genooi het nie.
"Ons kan slegs verantwoordelikheid neem vir faktore binne ons beheer soos spelers se veiligheid, wat ons eerste prioriteit is."
Thurston Murphy het die Firestones se kolfbeurt geanker met 'n goeie telling van 19 lopies.
Marcello Piedt peper die bal na die grens.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'