OUDTSHOORN KRIEKETNUUS - Die Old Crocs-vlakkiekrieketspan het Sondagmiddag op Mandelapark, die oop stuk veld langs die Bridgton-kliniek, die Lions in 'n dramatiese OPL-T20-semifinale wedstryd met die kous oor die kop huis toe gestuur.
Die Lions het net hulself te blameer vir hierdie nederlaag omdat hulle genoeg balle aan die einde van die wedstryd tot hul beskikking gehad het om die beskeie teiken van 75 lopies in 20 boulbeurte, af te slaan.
Briljante "death bowling" deur die Crocs se ervare bouler, Rhupino 'Pieno' Plaatjies, het egter alle lewe uit die Lions gewurg toe hy in sy laaste boulbeurt slegs twee lopies van ses balle, suksesvol verdedig het.
Om hierdie scenario in perspektief te stel het die Lions, met hul telling op 73 lopies op daardie stadium, slegs een lopie benodig om 'n gelykopuitslag te verseker, en een lopie om die wedstryd te beklink, 'n verspot maklike taak vir enige span in die wêreld. Maar kom ons begin by die begin ...
Die Crocs het die loot gewen en besluit om eerste te kolf waarna hulle 75 lopies bymekaargeskraap het wat effektief beteken het dat die Lions 'n gemaklike 3,7 lopies per boulbeurt moes aanteken vir oorwinning, oftewel 74 lopies van 120 balle. Die Crocs se kolfbeurt het katastrofies begin toe hul aanvangskolwer, Marco Jansen, deur die Lions se Ethan Lee Salmeester skoon geboul is. Jansen was voor die wedstryd met drie 50-talle die OPL-reeks se voorste kolwer.
Pieter 'Piko' Stuurman, kaptein van die Crocs, het nadat nog vier paaltjies van sy span relatief goedkoop geval het, op nommer ses die kolfkampie betree en 'n ware kapteinsbeurt (38 lopies) vir sy span vasgehekel.
Stuurman se beurt het slegs drie viere ingesluit met die res van sy lopies wat uit enkellopies bestaan uit. Tyrese Karelse was sy span se beste bouler met sy boulontleding van vier paaltjies vir 21 lopies in sy toegelate vier boulbeurte. In die Lions se kolfbeurt het die aanvangspaar Levano 'Patat' Nathan en (16) en Cameron 'Cammy' Rhoode hul jaagtog belowend begin voordat Merlin Masimela met die bal toegeslaan het.
Masimela het uiteindelik met suinige boulwerk, slegs twee paaltjies vir 16 lopies afgestaan wat 'n groot rol gespeel het om die Lions se lopietempo deurgaans onder beheer te hou.
Ten spyte van gedissiplineerde boulwerk deur die Crocs moes die Lions in die laaste boulbeurt slegs twee lopies van ses balle aanteken. Die ervare Rhupino 'Pieno' Plaatjies, van die Crocs, het met sy eerste bal 'n regulasie vangskoot vir die Crocs gebied toe Blaine Willemse hom na die wegpen vir 'n vier wou haak. Die bal het egter die toprand van die kolf getref en in die lug geskiet voordat Stuurman (kaptein) die belangrike vangskoot verbrou het. Om sout in die wonde te vryf het die twee kolwers vir 'n lopie deurgehardloop. Dus was die wedstryd nou gelykop met slegs een lopie wat nodig was vir 'n oorwinning - 'n hopelose situasie vir die Crocs.
Plaatjies se kanniedood-houding en slim-kort-van-'n-lengte boulwerk het egter met die daaropvolgende vier aflewerings die jong kolwer Eaj Carew op sy kolfkampie vasgepen. Met slegs een bal oor van die wedstryd, en Carew wat weereens wild misgeswaai het sonder om die beslissende wenlopie aan te teken, het pandemonium op die veld losgebars uit pure ekstase dat die Crocs so wraggies die bykans onmoontlike reggekry het. Om 'n uiteindelike wenner te bepaal moes die dramatiese wedstryd toe deur middel van 'n enkele super boulbeurt bepaal word. Die Lions kon toe slegs drie lopies vermag, waarna die Crocs dié nuwe teiken met een bal oor in hul kolfbeurt, behaal het.
Die Crocs sal nou teen die wenner van die Neppon Warriors en die Firestones in die finaal te staan kom.
In die OPL -Pro-10-liga sal die Super Rebels in die eindstryd teen die Spartans kragte meet. Hierdie wedstryde sal oor drie weke gespeel word na hersiening van die huidige vlak 4-inperkingsregulasies.
'n Vasberade Rhupino 'Pieno' Plaatjies maak hom gereed om die beslissende boulbeurt te boul.
Cameron Rhoode
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'