OUDTSHOORN NUUS - Een van die Tuinroete se groot krieketgeeste, Raymond Avontuur (72), is verlede Sondagoggend weens Covid-19-komplikasies in George-hospitaal oorlede.
Avontuur se seun, Ian, het aan Oudtshoorn Courant gesê dat sy pa verlede Woensdag in George-hospitaal opgeneem is.
Volgens Ian was sy pa, wat tot onlangs ook 'n radio-omroeper by EDENfm was, oor die algemeen 'n gesonde mens.
"Ons het omtrent 09:00 Sondag-oggend die tyding gekry dat my pa oorlede is. Alhoewel die familie nog in skok is, berus ons by die Vader se besluit. Ons sal hom onthou as iemand wat versot was op sy kinders en kleinkinders. Sy onselfsugtige geaardheid en sy liefde vir sport is sy nalatenskap wat ons vir altyd sal koester."
Luidens 'n persverklaring van SWD-krieket het Avontuur, 'n onderwyser van beroep, sy krieketloopbaan by SWD op 16-jarige ouderdom in 1961 begin toe hy nog op die skoolbanke by Môrester Senior Sekondêr was. Hy het in 1964 by Union Stars-krieketklub aangesluit.
Avontuur se kriekethoogtepunte:
- Hy het eens op 'n tyd die kolfrekord (145 lopies) vir die hoogste totaal in klubkrieket gehou.
- 'n Persoonlike hoogtepunt was toe SWD, met hom as kaptein, die OP in die 1980's in die Adcock-stadion verslaan het.
- In September 1996 word hy die eerste werknemer by SWD-krieket wat die pos as jeug- en ontwikkelingskoördineerder beklee.
- Hy dien SWD-krieket as skeidsregter, afrigter, sameroeper van keurders en as uitvoerende lid nadat hy sy roemryke loopbaan voltooi het.
- Hy ontvang die Legends-toekenning van die Wes-Kaapse departement van sport in 2008, en in 2017 vereer Krieket Suid-Afrika hom as een van die pioniers van die Mini-Krieket-program.
- In 2018 ontvang hy die Presidentstoekenning van die Eden-sportraad vir sy bydrae tot krieket in die SWD-streek.
- Drie van sy vier seuns Rashael, Clyde en Sammy-Joe het ook SWD-krieket op provinsiale vlak verteenwoordig. Die jongste, Sammy-Joe, het 80 eersteklas-wedstryde vir SWD gespeel en was in 2008 ook SWD-krieket se eerste verteenwoordiger by Krieket Suid-Afrika se akademie.
In sy huldeblyk het die president van SWD-krieket, Rudy Claassen, gesê: "Namens die krieketbroeder-skap van die SWD wil ek sy onself-sugtige bydrae tot SWD-krieket oor 'n tydperk van meer as 50 jaar eerbiedig.
"Hy was gerespekteer in krieket-kringe en het 'n groot bydrae gelewer toe hy sy kennis van die spel teruggeploeg het in ons strewe na hoër eerbewyse. Ons innige meegevoel met die Avontuur-gesin. Hy sal sekerlik gemis word."
Avontuur word ook deur sy dogter, Natalie en kleinkinders oorleef. Hy word vandag (Donderdag) vanuit die Assembly of God Church om 10:00 ter ruste gelê.
Verwante artikel: SWD Cricket mourns passing of Raymond Avontuur
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'