OUDTSHOORN SPORTNUUS – Ofskoon die Protea-vrouekrieketspan verlede Sondag in die wêreldbekereindstryd teen Australië met 19 lopies verloor het, is die uitstekende vertonings van Tazmin Brits (Garden Route Badgers-speler) in dié toernooi, tans op almal se lippe.
In die proses het dié einste span geskiedenis gemaak as die eerste senior Suid-Afrikaanse krieketspan ooit wat 'n IKR (internasionale krieketraad wêreldbekereindstryd haal- dit was ook die eerste keer dat 'n senior vroue wêreldbeker op Suid-Afrikaanse bodem aangebied was.
Brits se individuele vertoning teen Engeland in die halfeindstryd
Brits is 'n openingskolwer van die Six Gunn Grill Garden Route Badgers-span en het in verlede Vrydag se halfeindstryd teen 'n gedugte Engelse-span 'n briljante vertoning met die kolf sowel as in die veld gelewer.
Haar 66 lopies van slegs 58 balle het die fondasie gelê vir 'n stewige aanvangs-vennootskap van 96 lopies in die 13de boulbeurt met Laura Wolvaart se ewe indrukwekkende 53 lopies van 44 balle.
In hierdie wedstryd het sy ook 'n ongehoorde vier pragvangskote uit die lug geraap en daarmee gesorg dat Engeland se momentum gereeld gebreek is en Engeland die wedstryd uiteindelik naelskraap met 6 lopies verloor het.
Vir haar supervertoning was Brits ook welverdiend as speler van dié wedstryd aangewys.
Proteas teen Australië (eindstryd)
Beth Mooney, openingskolwer van Australië, het die besoekers op die voorvoet geplaas met 'n stewige 74 lopies van slegs 53 balle. Haar beurt het nege viere en een ses ingesluit.
Die dames in hul kenmerkende kanariegeel-speelklere kon uiteindelik 'n mededingende teiken van 156/6 op die telbord plaas, redelik bereikbaar as mens in ag neem dat 120 balle beskikbaar is om dit te vermag.
Australië se boulers het egter die Proteas met suinige en akkurate boulwerk, stelselmatig die lewe uit die proteas gewurg, en is die tuisspan na hul toegelate 20 boulbeurte tot 137 lopies beperk - 19 lopies kort van wat 'n geskiedkundige oorwinning sou wees. Nietemin is vriend en vyand dwarsoor die wêreld dit eens dat die Proteas met eer uit die eindstryd en toernooi getree het en dat hulle passie en ongelooflike vaardighede ten toon gestel het wat miljoene harte gesteel het.
In hierdie wedstryd Brits vir 10 lopies uitgehaal met Wolvaard wat weereens die beurt geanker het met 61 lopies.
Proteas teen Bangladesh (groepfasewedstryd)
In hierdie wedstryd was Brits weer op haar allerbeste met 'n 50-tal van slegs 51 balle. Proteas wen met 10 paaltjies.
Proteas teen Australië (groepfasewedstryd)
Weereens was Brits onstuitbaar met 'n sprankelende 45 lopies van slegs 35 balle wat ses viere en een ses ingesluit het. Proteas verloor met 6 paaltjies.
Groot eer vir Brits
Na afloop van die wêreldbeker is Brits welverdiend saam met haar openingsmaat, Laura Wolvaardt en snelbouler Shabmin Ismail, in die droomspan van die toernooi opgeneem wat die beste presteer het. Ishmail het ook die vinnigste bal ooit (128km/h) in vrouekrieket afgelewer gedurende die halfeindstryd wat drie leë boulbeurte ingesluit het - geen bouler in die toernooi kon meer as een leë boulbeurt vermag nie. Dan was Wolvaard ook die kolwer met die meeste lopies in die wêreldbeker sowel as die meeste sesse (5).
Hierdie span is gekies deur 'n paneel van krieketlegendes en deskundiges wat Ian Bishop (boul-legende van Wes-Indië), Mel Jones (voormalige Aussie-speler), Ebony Rainford-Brent (voormalige Engelse-speler), Firdoose Moonda (welbekende internasionale sportjoernalis van Suid-Afrika) en Shenal Pradhan (IKR-vrouekrieketsameroeper) insluit.
Die volledige wêreldspan is as volg:
- Tazmin Britz van Suid-Afrika met 186 lopies.
- Alyssa Healy van Australië met 189 lopies.
- Laura Wolvaard van Suid-Afrika met 230 lopies.
- Nat Sciver-Brunt van Engeland met 216 lopies.
- Ashleigh Gardner van Australië met 110 lopies.
- Richa Ghosh van Australië met 136 lopies.
- Sophie Ecclestone van Engeland met 11 paaltjies.
- Karishma Ramharack van Wes-Indie met 5 paaltjies.
- Shabnim Ishmail van Suid-Afrika met 8 paaltjies.
- Dracie Brown van Suid-Afrika met 7 paaltjies.
- Megan Schutt van Australië met 10 paaltjies.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'