OUDTSHOORN KRIEKETNUUS - Die eerste skote het die naweek geklap in die nuwe Big Bash-T20-vlakkiekrieketliga (BBL) wat deur Sport Buddy Charity aangebied en deur die OPL ondersteun word.
In die wedstryd tussen die Firestones en die Oukas Sunrises kon die Firestones daarin slaag op 'n massiewe telling van 116 lopies in hul toegelate 20 boulbeurte aan te teken.
Op 'n Mandelapark-blad, wat berug is vir sy onvoorspelbaarheid, het die manne in rooi aanvanklik gesukkel op die blad wat vooraf skoongevee is.
Firestones se aanvangskolwer Ruduwaan 'Sakkie' Oktober het egter met sy sprankelende 70 lopies gewys dat hy beslis as een van die groot kolwers in die toernooi gereken moet word. Sy beurt het sewe viere ingesluit. Damion Esau het in Firestones se boulbeurt met drie paaltjies vir slegs agt lopies in vier boulbeurte, die Sunrisers se kolwers aan flarde geruk met goeie ondersteuning van Gerrie April (2/3) en Simon van Rooyen (2/10). Die Sunrisers is uiteindelik vir 49 lopies uitgehaal wat 'n kliniese oorwinning van 69 lopies aan die Firestones besorg het.
Die Prostars het op sy beurt vriend en vyand verras toe hy die Old Crocs met vyf paaltjies vermorsel het. Die Old Crocs het eerste gekolf en kon slegs 74 lopies in sy toegelate 20 boulbeurte op die telbord plaas. Dit het beteken dat die Prostars teen slegs vier lopies per boulbeurt moes aanteken vir 'n oorwinning wat lank onthou sal word. Die Prostars se aanvangskolwers Beon Baartman (25) en Ruwaan Fielies (29) het met 'n openingsvennootskap van 50 lopies die wind behoorlik uit die Crocs se seile gehaal en die wenteiken met nog 10 boulbeurte oor behaal.
Ander uitslae:
- Lions klop Neppon Warriors
- Teamplayers klop Champs
- Spartans klop Dream Team
- Samewerking klop Legends
Ruduwaan Oktober moker die bal grens toe.
Austin Alexander van die Prostars stuur een van sy balle af.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'