Update
OUDTSHOORN NUURS - Ottneil Baartman (27), gebore Oudtshoorniet en voormalige SWD- krieketspeler is verlede Vrydag opgeneem in die Proteas se 21-toetsgroep wat vanaf 26 Januarie tot 14 Februarie in Pakistan gaan toer.
Baartman se insluiting volg kort op die hakke van nog 'n Oudtshoorniet, Glenton Stuurman, wat onlangs teen Sri Lanka sy toetsbuiging sou maak. Weens 'n besering kon Stuurman egter nie sy amptelik Protea-debuut maak nie. Suid-Afrika het die onlangse toetsreeks teen Sri Lanka gemaklik met 2-0 gewen.
Baartman, 'n snelbouler wat tussen 135 km en 140 km per uur boul, spog met 82 eersterangse paaltjies uit 28 wedstryde met die beste boulontleding van 14/95 op 'n gemiddeld van 26.84.
Hy het ook die SWD in agt eersteklas-, agt Lys A- en ses T20-wedstryde tussen 2014 en 2017 verteenwoordig. In die 2017/18-seisoen het hy by die Knights-franchise in Bloemfontein aangesluit. Aan die begin van die huidige seisoen het hy na Durban verhuis waar hy tans vir die Dolphins speel.
Volgens Baartman het hy reeds op 1 Januarie die goeie nuus ontvang.
"My ma, Maria Koeries, het dadelik in trane uitgebars toe ek haar bel. As kind wou ek altyd soos my held, Lance Klusener wees omdat hy die bal so hard geslaan en ook redelik vinnig geboul het.
Vir my was hy die perfekte all rounder ooit. Soos ek bietjie ouer word, het ek daarna begin gestreef om soos Vernon Philander te wees met sy akkurate boulwerk wat kolwers gereeld laat bontstaan het. Ek wil graag my support system soos my vriende, familie, skool (Bridgton Sekondêr), krieketklubs (SWD, Western Hope en Union Stars ) bedank omdat hulle aanhou glo het dat die Proteas, eendag vir my, 'n gewone klong van 'n klein dorpie soos Oudtshoorn, sal raaksien."
Baartman sê dat hy realistiese verwagtinge het vir die opkomende toer na Pakistan. "Ek besef maar al te goed dat tensy die gevestigde boulers in die groep soos Kagiso Rabada, Lungi Ngidi, Anrich Nortje, Lutho Sipamla en Beuran Hendricks beserings opdoen, ek waarskynlik nie speelkans gaan kry in die twee toetswedstryde nie. Die ervaring en die geleentheid om van hierdie spelers en die boulafrigter te kan leer, is egter vir my van onskatbare waarde. Wedstryde op die sub-kontinent is gewoonlik uitdagend vir boulers omdat die pitch droog en sonder gras is. Dis hier waar reverse swing 'n groot rol kan speel. Die wete dat Charl Langeveld (voormalige-Proteabouler en huidige boulafrigter van die Proteas) daar is om my 'n paar nuwe truuks te leer in daai uiterste toestande, is iets waarna ek uitsien."
Volgens Baartman vertek die Proteaspan môre (Vrydag) na Pakistan waarna hulle dadelik in 'n veilige bio-bubble-omgewing geplaas word.
Albertus Kennedy, hoof- uitvoerende beampte van SWD-krieket, het Baartman gelukgewens.
Vorige artikel: Baartman opgeneem in Proteakrieket-toetsgroep
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'