OUDTSHOORN NUUS - Ottneil Baartman het Maandag 5 Junie, geskiedenis gemaak toe hy in sy eerste T20-wêreldbekerwedstryd 'n paaltjie met sy eerste bal teen Sri Lanka vir die Proteaspan geneem het. Volgens amptelike rekords is Baartman ook die eerste Suid-Afrikaner wat dit nog ooit kon vermag.
Hierdie wedstryd is in New York (Amerika) gespeel waar die T20-wêreldbeker tans aan die gang is. Wedstryde word ook in die Karibiese Eilande gespeel.
Baartman het uiteindelik met fantastiese boulontledingsyfers geëindig waar hy een paaltjie geneem het en slegs nege lopies afgestaan het in sy toegelate vier boulbeurte.
Sy slagoffer was Pathum Nissanka wat Baartman uit die staanspoor probeer moker het, maar hy kon slegs daarin slaag om 'n dik buiterand van die kolf te kry wat gevlieg het na die derdemanposisie waar hy deur Heinrich Klaasen uitgevang is.
Sri Lanka het die loot gewen en besluit om eerste te kolf; 'n besluit wat hulle dadelik berou het. Die blad was van bal een af onvoorspelbaar en het by tye, redelik geswaai.
Die Protea-aanvangsboulers, Marco Jansen, Kagiso Rabada tesame met Baartman, het in die kragspel van ses boulbeurte geboul en die kolwers van Sri Lanka behoorlik vasgepen; soveel so dat hulle in die 11de boulbeurt slegs 45 lopies op die telbord gehad het met ses paaltjies plat.
Die draaibalbouler Keshav Maharaj en die sneltrein Anrich Nortjé het voortgebou op Jansen, Rababa en Baartman se formidabele grondslag en as bouleenheid uiteindelik Sri Lanka vir 'n skamele 77 lopies uitgeboender - hul laagste telling nog in T20-wedstryde.
Die Proteas het hul jaagtog versigtig benader en die wenlopies in die 16de boulbeurt bereik met ses paaltjies nog in die bank. Nortjé is welverdiend as speler van die wedstryd aangewys vir sy vier paaltjies vir slegs sewe lopies in sy toegelate vier boulbeurte - dis ook die beste boulontleding nog vir 'n Suid-Afrikaner by 'n T20-wêreldbeker.
Die Proteas se volgende wedstryd is Saterdag 8 Junie 16:30 teen Nederland.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’