OUDTSHOORN NUUS : Ottniel Baartman, boorling van Oudtshoorn, het Dinsdagaand, 16 Januarie, in die kleure van Sunrisers Eastern Cape-krieketspan, senuwees van staal in die internasionale Betway SA20-krieketreeks gewys. Baartman is 'n oud SWD-krieketspeler.
Dié gewilde T20-reeks het verlede jaar afgeskop en lok van die beste spelers in die wêreld.
In Dinsdagaand se wedstryd teen MI Cape Town in Kaapstad, moes Baartman 15 lopies van die laaste boulbeurt vir sy span verdedig om hierdie naelbytstryd te wen.
Connor Esterhuizen van MI Cape Town het 'n sierlike ses lopies van die eerste bal gemoker wat Baartman dadelik onder druk geplaas het.
Dit het beteken dat MI Cape Town slegs 10 lopies van vyf balle moes aanteken. Baartman het egter sy aflewerings slim afgewissel en slegs vyf lopies afgestaan in die res van die boulbeurt.
Met die laaste bal kon die kolwer, Sam Curran (speler van Engeland) van MI Cape Town, glad nie eers 'n lopie aanteken omdat Baartman die bal in sy bene afgevuur het. Sunrisers het die wedstryd met vyf lopies gewen.
Vroeër die dag het jonge Jordan Herman van Sunrisers, 'n briljante onoorwonne 106 lopies gemoker om sy span tot 'n formidabele telling van 202 lopies vir die verlies van twee paaltjies in hul toegelate
20 boulbeurte aan te voer.
Herman se beurt het ses grenshoue en agt sesse ingesluit, en hy was goed ondersteun deur nog 'n speler van Engeland en aanvangsvennoot, Dawid Malan, wat
53 lopies aangeteken het.
MI Cape Town se lopiejaagtog het belowend begin met 'n 100-lopievennootskap om die eerste paaltjie tussen die twee Protea-spelers, Ryan Rickleton (58 lopies) en Rassie van der Dussen (41 lopies).
Curran en die kaptein, Kieron Pollard van Wes-Indië, was die enigste spelers wat hoop met die wilgerlat getoon het voordat Baartman uiteindelik 'n stokkie daarvoor gesteek het.
Sunrisers Eastern Cape is ook tans die verdedigende kampioen van die Betway SA20-reeks.
Die ander spanne wat in die reeks deelneem sluit die Joburg Super Kings, Durban Super Giants, Paarl Royals en die Pretoria Capitals in. Hierdie ses spanne speel twee keer teen mekaar voordat die topvier spanne mekaar in die halfeindstryde op 7 en 8 Februarie sal pak.
Die eindstryd sal op Saterdag 10 Februarie, beslis word.
Al ses spanne van die Betway SA20-reeks is deur die Indiese Premierliga (IPL) se franchises gekoop, vandaar die spanne se name.
Krieket Suid-Afrika is egter die grootste aandeelhouer in die reeks (50%) gevolg deur Supersport (30%) en Indië se Sundar Raman wat 20% aandele besit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’