OUDTSHOORN KRIEKETNUUS - Die oud-SWD-krieketspeler, Sammy Joe Avontuur, is onlangs as hoof- assistentafrigter van Warrior Sport Centre-krieketakademie aangestel.
Dié krieketakademie is in Qatar in die Midde-Ooste gebaseer. Avontuur vertel dat hy reeds sedert 2018 in die verte sy krieket gaan soek het.
"My eerste proesel van professionele afrigting het gekom in 2009 toe ek in Engeland gekontrakteer was as hul oorsese speler vir Lowestoft-krieketklub. Daar het ek vir die eerste keer afgerig op die Engelse Krieketraad se chance to shine-program. Gedurende my speeldae by SWD was ek ook geslyp by die SWD se talentidentifiserings-programme. In 2017/2018 seisoen is ek aangestel as kolfkonsultant van SWD-krieket en ook om Krieket SA se skolekrieketprogram by PW Botha in George te koördineer."
Volgens Avontuur het die SWD egter besluit om sy kontrak die volgende jaar nie te hernu nie wat hy en sy vrou Angelique met hul drie maande oue baba genoodsaak het om na Qatar te emigreer.
"Dit was nie 'n maklike besluit om ons familie en vriende agter te laat nie, maar uit 'n finansiële oogpunt het dit net sin gemaak. Angelique is toe by 'n privaatskool aangestel waar sy ook verlede jaar as beste wiskunde-onderwyser aangewys is. My vrou was vir bykans 13 maande die alleen-broodwinner in hierdie tydperk terwyl ek 'n stay at home dad was. Met behulp van my nuutgevonde vriende in Qatar het ek my CV na die regte hande gestuur, en die res soos hulle sê, is geskiedenis."
Die internasionale afrigtingstoekoms is beslis blink vir Avontuur as 'n mens in ag neem dat die Warriors Sport Centre-akademie die direkte voedingslyn vir Qatar se nasionale krieketspan is.
Tans spog dié akademie met vyf spelers wat in Qatar se nasionale span opgeneem is.
Avontuur se kontrak is permanent en voorlopig onbepaald totdat 'n beter aanbod op die horison kom, sê hy.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'