Update
OUDTSHOORN NUUS - Johan Windt (66) van Mosselbaai het verlede Saterdag 'n nuwe SA rekord by die interprovinsiale tweekamp in die meestersafdeling opgestel. In die proses het hy 'n goue medalje gewen, en hakskene vir verlede jaar se wenner, Michael Forbes gewys.
Volgens Windt, wat Eden verteenwoordig het, is hy al die afgelope 20 jaar by tweekamp betrokke. Hy vertel dat hy drie jaar gelede die eerste keer die SA rekord syne gemaak voordat Forbes dit verlede jaar verbeter het.
"Daar is geen manier dat 'n ou voor die tyd kan weet of jy gaan seëvier in jou afdeling nie omdat die puntestelsel so gekompliseerd is, en vir daardie rede was ek nogal aangenaam verras toe my naam as die algehele wenner en nuwe SA rekordhouer uitgeroep was.
Op 'n vraag waaraan hy sy sukses in vanjaar se interprovinsiale tweekamp kan toeskryf, het hy geantwoord dat hy elke dag die 400 en 800 m in die Van Riebeeck-stadion op Mosselbaai hardloop.
Hy neem ook gereeld aan die Hartenbos-parkrun deel om sy fiksheidsvlakke te handhaaf het hy gesê.
Verlede jaar het Windt ook eerste plekke in die twee en drie-kamp behaal toe hy die SA span in Ierland en Egipte verteenwoordig het.
"Ek is van nature 'n baie kompeterende persoon wat altyd daarna strewe om die beste te wees in enige iets wat ek aanpak, en ek sal waarskynlik eers eendag op die veld dood moet neerslaan voor ek die tuig gaan neerlê, het hy geskerts.
Volgens Windt onderneem hy om in Hongarye later vanjaar aan die international tweekampbyeenkoms deel te neem indien hy die SA span haal.
"Krediet moet veral aan my vrou (Marita) gaan vir die opofferinge oor die jare en vir haar begrip dat tweekamp my passie is."
Lees 'n vorige artikel hier: Windt te sterk vir Forbes vanjaar
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'