OUDTSHOORN NUUS - Mans is meer as welkom om deel te neem aan die jaarlikse Vrouedagwedlope (10 km en 3 km) wat op Woensdag 9 Augustus (Vrouedag) aangebied word.
Die wegspring om 08:00 en eindpunt is by die nuwe Klein Karoo Agri-vulstasie in Parkweg waar die prysuitdeling ook om 10:00 sal plaasvind.
Die eerste tien vroue in die 10 km wedloop sal almal goue medaljes ontvang. Die wenner gaan met R300 prysgeld wegstap. Die volgende 50 atlete (mans en vroue) sal almal silwer medaljes en die daaropvolgende 100 almal brons medaljes ontvang. In die 3 km wedloop gaan die eerste 50 atlete brons medaljes ontvang.
Inskrywingsgeld vir die 10 km is R55 vir gelisensieerde atlete en R90 vir ongelisensieerde atlete. Atlete wat die oggend van die wedloop wil inskryf betaal 'n addisionele R10.
Vir die 3 km is die inskrywingsgeld slegs R20.
Atlete kan aanlyn by www.entryonline.com inskryf of by Tekkie Town (Oudtshoorn en Garden Route Mall), Top Gear Sport, Sportcentre (Yorkstraat en Eden Meander Mall op George).
Die sluitingsdatum vir voorafinskrywings is Saterdag 5 Augustus en al die inskrywings kom in aanmerking vir die gelukkige trekkings om een van ses geskenke ter waarde van R400 van Sorbet te wen.
Laat inskrywings kan die oggend van 9 Augustus van 07:00 tot 07:45 by die wegspringplek gedoen word.
ARTIKEL: GARNETT WICOMB, OUDTSHOORN COURANT KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'