OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn se bekende veteraanatleet, Jason Jafta (66), het Sondag 8 Junie, ondanks 'n ernstige val sowat 18 km voor die eindstreep, sy 32ste Comrades-marathon voltooi. Hy het met 'n bronsmedalje huis toe gekom.
Sy eerste Comrades was in 1990 en daarna het hy nog net drie gemis.
Hy het die uitdagende ultramarathon tussen Durban en Pietermaritzburg in 'n tyd van 10 uur en 55 minute voltooi.
Volgens Jafta het hy gemik om die wedloop onder nege uur te voltooi, soos hy al vele kere tevore het, maar die voorval het sy pas vertraag.
"Ek is van agteraf gestamp en het met my kop teen die sypaadjie geval. Ek was vir amper 20 minute bewusteloos en niemand het my gehelp nie. Maar ek het opgestaan en verder gehardloop, ek het nog nooit nié klaargemaak nie."
Hy vertel dat hy die laaste deel van die marathon met sy kop afwaarts moes hardloop. "Elke keer as ek my kop opgelig het, het ek duiselig geraak."
Na afloop van die wedloop is hy hospitaal toe geneem, waar hy 'n drip gekry het en met ligte harsingskudding gediagnoseer is.
"My gesig lyk of ek in 'n bokskryt was, maar verder voel ek goed. Ek het goed voorberei, so my lyf is glad nie seer nie."
Vir Jafta is hardloop 'n passie wat diep in sy wese lê. Hy sê hy is vasbeslote om, nes die legendariese Louis Massyn, 50 Comrades-marathons aan te pak.
"Solank my gesondheid dit toelaat, sal ek aanhou hardloop. Ek dink nie ek sal ooit ophou nie."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’