OUDTSHOORN NUUS - Die gewilde Eden-straatmylreeks vind vanjaar weer plaas en word soos in die verlede aangebied deur die KKAF (Klein Karoo Atletiek fonds). Die reeks het die seisoen geopen met die Klein-Karoo-straatmyl wat vanoggend om 09:00 in Baron van Reedestraat, regoor Kleinplasie afgeskop het. Die prysuitdeling vind om 11:00 plaas by die Spur.
Die straatmyl word afgesluit in Hartenbos met die ATKV-straatmyl op 18 Desember in Paardekraalweg.
Eerbetoning
KKAF en die sportgemeenskap van die Tuinroete wil ook graag hulde betoon aan een van die groot atlete uit ons gebied: prof. De Villiers Lamprecht. Hierdie oudskolier en hoofseun van die destydse Oudtshoorn Boys High en die eerste atleet om 'n droommyl in Suid-Afrika te hardloop, is onlangs oorlede. Die KKAF dra graag vanjaar se Klein-Karoo-straatmyl aan hom op, en hoe gepas dat dié straatmyl amper voor sy alma mater eindig. Gepas is ook dat sy kleinseun, ook Div Lamprecht, een van die ingeskrewe atlete is.
Reeds ingeskryf
Van die topatlete wat alreeds vanjaar ingeskryf het, is Christopher Swart van NWU (tweede in die World Students Cross Country), Keanu Domingo (NWU eerste in die World Student Cross Country), George Rancwana (PTC), Andrea Steynberg (Potchefstroom Gimnasium), Jansen Bell (NWU), Simoney Weitsz (wat roeterekord in 2023 in die Klein-Karoo-straatmyl in Oudtshoorn opgestel het), Erna-Mari Conradie (Paarl Gimnasium, verlede jaar se Jeug-kategoriewenner).
Uit die SWD-geledere kom topatlete soos Francois Maquassa, Tinus Ersamus en Nicolas Vrey. Daar was teen Maandag 9 Desember alreeds by die 90 voorafinskrywings.
Fun Mile
Daar is ook weer die 'Fun Mile' vir die oudatlete en ander gewilliges by die ATKV-straatmyl in Hartenbos. Daar is geen vorige inskrywings nie, meld net aan by die wegspring. Verlede jaar het 'n heel paar oud-Springbokke die myl die stryd aangesê en voltooi!
Prysgeld
Meer as R40 000 se prysgeld is op die spel.
Borge
Die hoofborge is NWU, ATKV Hartenbos, Wes-Kaap departement van kultuursake en sport, ASICS en Groter Oudtshoorn-munisipaliteit. Addisionele borgskappe en bystand word verleen deur Oudtshoorn Ford, Surval, Kleinplaas, Sante Fe Spur, ASWD, EDENfm, HollywoodBets, Mosselbaai-mnisipaliteit (burgemeesterskantoor) en natuurlik die vrywilligers. EDENfm saai ook beide die straatmyle lewendig uit!
Ontwikkelingsprogram
As deel van KKAF se ontwikkelings-program word daar in samewerking met die Sportontwikkelingsdepartement van die Groter Oudtshoorn-munisipaliteit en die topatlete 'n motiveringskliniek in Oudtshoorn op 17 Desember om 10:00 by die Bridgton-sportterrein deur die Olimpiese atleet, Elroy Gelant, aangebied.
Die Klein Karoo Atletiekfonds doen ook baie op die ontwikkelingsfront en word beginnersatlete aangemoedig om ook deel te neem. Atlete kan in vyf ouderdomskategorië in die Eden-straatmylreeks meeding - Jong Talent (2010-2015), Jeug (2007-2009), Junior (2005-2006), Ope en 40+. Daar is ook 'n prys vir die beste ASWD mans- en damesatleet.
Deel van die reeks is ook die Grand Prix-stelsel waar die mans- en damesatleet wat die meeste punte oor die reeks verdien, wegstap met die gesogte Gran Prix-trofee (en gesogte prysgeld).
Die status van straatmyle binne wêreld-atletiek is verhoog deurdat World Athletics dit bygevoeg het tot die nuwe wêreldpadkampioenskappeprogram wat vir die eerste keer in Latvia aangebied is en waar van die Eden-straatmylreeks se wenners, Ryan Mphahlele en Carina Viljoen deel was! Die Eden-straatmylreeks bied nou aan ons atlete die geleentheid om die Atletiek SA keurders te beïndruk vir opname in die SA spanne!
Meer inligting omtrent hoe om in te skryf asook die program is op www.edenmiles.co.za sowel as op Facebook beskikbaar.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’