OUDTSHOORN NUUS - Die jaarlikse gewilde Timbercity-sakeaflos is môre 7 Maart, weer op hande en vind soos gewoonlik in Baron van Reedestraat plaas. Dit begin om 18:00 en sal die prysuitdeling rondom 20:00 reeds afgehandel wees.
Die sirkelpretwedloop begin oudergewoonte voor die Sante Fe Spur Restaurant waarna dit by Van der Rietstraat draai en weer by die beginpunt klaarmaak.
Gedurende die afloswedloop doen elke spanlid een rondte waarna die aflosstokkie aan die volgende spanmaat oorhandig word. So 'n rondte is omtrent 1,8 km. Stapspanne het vier lede en die drafspanne bestaan uit altesaam ses lede.
Soos die vorige jare is daar ook spesiale pryse vir die Fun Dress-kompetisie sowel as ander pryse. Verlede jaar het nie minder nie as 72 spanne ingeskryf.
Hardloopspanne kan in vyf kategorieë deelneem, naamlik - mans, dames, gemeng - twee mans en twee dames, hoërskole en laerskole. Stapspanne bestaan uit vier persone van enige geslag.
Staats- en semistaatsinstellings soos die SANW, SAPD, DKD, departement van gesondheid, munisipaliteit, ens. word uitgenooi om spanne in te skryf. Alle deelnemende besighede, skole en instansies mag hulle baniere langs die roete vertoon.
Vir enige inligting kontak Dave van der Walt by 082 773 4901.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’