OUDTSHOORN NUUS - Die gewilde gemeenskapsprojek van die Klein Karoo Atletiekfonds (KKAF) vind weer vanjaar op Donderdag 16 Oktober in Baron van Reedestraat plaas. Die wegspring en eindpunt is voor Santa Fe Spur.
Dit begin om 18:00 en maak teen 20:00 klaar. Vanjaar is daar 'n nuwe hoofborg, Cango Wildlife Ranch, aan boord en staan die afloswedloop amptelik bekend as die Cango Wildlife Klein Karoo Business Relay.
Verskeie sekondêre borge maak dit ook moontlik om hierdie gemeenskapsprojek jaarliks aan te bied.
Hier speel die Groter Oudtshoorn-munisipaliteit, Group Editors (Oudtshoorn Courant), Santa Fe Spur en Jakhals Management Events 'n groot rol terwyl donateurs soos Kango-grotte, Highgate-volstruisplaas, National Events, Klein Karoo Medic Events, Klein Karoo Melkery en Eden FM die gate verder toestop!
Dit is die KKAF se doel om die totale gemeenskap van Oudtshoorn saam te bring in die sakekern om op 'n sosiale wyse inklusiwiteit verder uit te brei.
Agtergrond
Net ter agtergrond, die KKAF is 'n nie-winsgewende organisasie wat daargestel is om atlete, hoofsaaklik uit benadeelde omstandighede te ondersteun om hulle sportloopbane te ontwikkel. Daar word ook aandag gegee aan die holistiese ontwikkeling van hulle vaardighede en om hulle vir die totale lewenstaak vorentoe te ontwikkel.
Wat behels die sakeaflos?
Dit bestaan uit drie afdelings, die stap, hardloop en vanjaar is die afdeling vir gestremde persone bygevoeg. Die stap en spesiale behoefte-spanne bestaan uit vier lede en die hardloopspanne uit ses lede. Dit werk op 'n aflosbasis en elke been is ongeveer 2 km vanaf Santa Fe Spur tot by Van der Rietstraat en terug. Die laaste lid van die span voltooi dan die wedloop voor die Spur.
Die volgende kategorieë word aangebied:
Mans, vroue, laerskole, hoërskole, seuns en meisies, gemeng (drie mans en drie vroue) en gestremdes (rolstoele).
Die inskrywingsgeld beloop R30 per persoon. Elke deelnemer wat die wedloop voltooi, ontvang 'n medalje terwyl die wenspanne ook goue medaljes kry. Daar is weer 'n Fancy Dress-kompetisie met groot pryse, terwyl daar ook heelwat gelukstrekkings is. Vir spanne en toeskouers wat daarna iets wil eet, bied Santa Fe Spur 'n afslag van 10% aan.
Hoe skryf ek in?
Daar is verskeie maniere om in te skryf. Eerstens word daar digitale inskrywings-vorms na alle belangstellende rolspelers via die elektroniese media gestuur.
Dan is daar is inskrywingsvorms beskikbaar by Cango Wildlife Ranch, Oudtshoorn Courant en Santa Fe Spur. Op die plakkaat en inskrywingsvorm is daar ook 'n QR-kode waarmee inskrywings gedoen kan word.
Die organiseerders verkies elektroniese inskrywings aangesien dit administrasie vergemaklik. Die aanlyninskrywings sluit 13 Oktober, harde kopie inskrywings 10 Oktober en spanne wat voor 1 Oktober inskryf se name kom op hulle deelnemersnommers. Laatinskrywings kan tussen 16:00 en 17:00 by die wegspring gedoen word.
Die organiseerders versoek die gemeenskap van die Groter Oudtshoorn om deel te word van hierdie poging van KKAF om die dorp se mense op 'n gesellige geleentheid bymekaar te kry en vir ten minste twee ure alle bekommernisse te vergeet.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’