KLEIN KAROO NUUS - Die Klein-Karoo Atletiekfonds (KKAF) bied op 2 Maart die Timbercity Klein-Karoo-sakeaflos aan. Vanjaar word daar weer 'n 'Fancy Dress'-tema aangebied met groot pryse wat op die spel is.
Weens onvermydelike omstandighede skuif die venue vanjaar na die REC (SWD-krieketstadion) en Hoërskool Oudtshoorn se sportterrein.
'n Feestelike atmosfeer word geskep om inwoners 'n geleentheid te gee om mekaar beter te leer ken. Alle deelnemende besighede, skole en instansies mag hulle baniere langs die roete vertoon.
Die koste om aan die sakeaflos deel te neem beloop R25 per persoon, R150 vir drafspanne en R100 vir stapspanne. Inskrywings kan ook elektronies gedoen word.
Daar kan in verskillende afdelings deelgeneem word: Draf (ses per span), of stap (vier per span). Elke lid van 'n span lê slegs 2 km af. Gemengde spanne van mans en dames (2 van elk) kan ook saamgestel word.
Hoërskole, laerskole en persone met gestremdhede mag ook deelneem.
Slegs 100 spanne kan in dié sakeaflos geakkommodeer word, en staat- en semi-staatsinstellings soos die SANW, SAPD, hospitale, paaie, binnelandse sake, en Oudtshoorn-munisipaliteit word uitgedaag om spanne in te skryf. Instansies mag meer as een span ingeskryf.
Alle deelnemers van spanne wat klaarmaak ontvang bronsmedaljes, terwyl die wenspanne in elke kategorie goue medaljes ontvang.
Heelwat ander pryse sal ook op die spel wees.
Gideon Badenhorst, Oudtshoorn-sakekamer se voorsitter, het namens die sakekamer hul volle ondersteuning aan die projek toegesê.Vir meer inligting kontak Dave van der Walt by 082 773 4901 of davesus@telkomsa.net.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'