GEORGE NUUS - Alle paaie lei Saterdag 24 Junie na Palm Tyre in Courtenaystraat waar Rainbow-atletiekklub vir die 26ste jaar die gewilde Palm Tyre-wedloop gaan aanbied.
Hierdie wedloop beloof om groot getalle atlete vanoor die provinsie, asook van ander provinsies te lok wat ook as voorbereiding vir die jaarlikse Knysna-oesterfees sal dien.
Van die topatlete in die provinsie sal beslis opdaag vir hierdie wedloop aangesien die wedloop oor 'n redelike plat roete aangebied word. Jaarliks word hierdie opwindende wedlope aangebied in 'n feestelike atmosfeer.
Hierdie jaar beloof die wedloop behalwe die gebruiklike kategorie pryse ook aansporingspryse in die mansafdeling aan te bied.
Vir die eerste mansatleet wat onder 29 minute die wenstreep oorsteek wag 'n bonusprys van R2 000. Die volgende atleet wat die wenstreep onder 29 minute 30 sekondes oorsteek wag 'n bonusprys van R1 000 en vir die daaropvolgende atleet wat die wenstreep onder 30 minute oorsteek wag 'n R500-bonusprys.
Die rekordtyd van Lloyd Bosman op hierdie roete staan op 29 minute 50 sekondes, terwyl Zola Budd Pieterse die roete ook al afgeblits het in 'n tyd van 36 minute 20 sekondes.
Die wedloop sal Saterdagoggend om 08:00 by Palm Tyre begin en eindig. Inskrywings kan gedoen word by Palm Tyre.
Laat inskrywings kan nog Vrydag 23 Junie tussen 18:00 en 20:00 by Palm Tyre gedoen word. Inskrywings vir die 5 km-pretwedloop kan op Saterdagoggend by wedloop gedoen word.
Inskrywingsfooi vir die 5 km-pretloop beloop R30, vir die 10 km-wedloop R65 vir gelisensieerde atlete, terwyl tydelike atlete behalwe die R65 inskrywingsfooi, 'n ekstra R40 moet opdok vir 'n tydelike lisensie. Die wedloop word aangebied onder die reëls en regulasies van ASA en ASWD.
In 'n gesprek met PJ Botha van Palm Tyre is dit duidelik dat Palm Tyre uitnemende diens aan hulle kliënte wil lewer. PJ het ook genoem dat hulle graag onbaatsugtig terugploeg in die gemeenskap.
Hy en sy mede-personeellede sien uit na Saterdag se wedloop en nooi al die fikse asook geleentheidsatlete uit om te kom deelneem. Behalwe die gebruiklike kategoriepryse voorsien Palm Tyre ook groot pryse vir die gelukstrekkings.
Merk 24 Junie op jou kalender vir een van die grootste hardloopfeeste in George.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’