OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-atleet Anel van Wyk-Spies, het Sondag 16 November 'n besondere mylpaal bereik toe sy die Isuzu Ironman 70.3 Mosselbaai in 'n indrukwekkende 6:23:49 voltooi het.
Wat haar prestasie nóg meer merkwaardig maak is dat sy 'n jaar en 'n half gelede haar tibia heeltemal afgebreek en dokters het getwyfel of sy ooit weer sou kon hardloop soos sy voorheen het.
Die halfafstand-driekamp behels 'n 1,9 km-swem, 90 km-padfietsroete en 'n 21,1 km-halfmaraton, en die 2025-roete het deelnemers deur asemrowende kus- en berglandskappe geneem, insluitend die Outeniqua-berge en die Gouritzriviervallei.
Van Wyk vertel dat sy tot op die laaste oomblik onseker was of sy sou deelneem.
"Ek is mal oor 'n uitdaging en dit is hoekom ek ingeskryf het. Ek het aanvanklik heroorweeg om deel te neem, maar op die nippertjie besluit om dit wel te doen, en dit was fantasties!"
Sy sê haar swem was haar beste nóg en dat sy dit regtig geniet het.
Net voor Ironman het sy op 27 Oktober ook aan die 6 Peaks-wedloop in George deelgeneem en die Dryland Traverse in Oudtshoorn wat op 30 Oktober begin het.
Volgens haar was die 6 Peaks 'n ongelooflike tawwe uitdaging weens die erge koue en nat weer.
"Die weer het dit nog meer uitdagend gemaak en ek moes ekstra insit om die wedloop te voltooi. Met hierdie wedloop, net soos al die ander, het ek besef jou kop moet sterk bly in enige ding wat jy aanpak anders sal jy nooit die endstreep sien nie."
Sy sê egter dat haar herstel haar grootste oorwinning bly.
"Dit was 'n baie slegte breek en dokters het gedink ek gaan nie weer kan hardloop nie. Dit was vir my baie sleg, want ek is versot op sport. Dit is my lewe."
Tog het sy vasgebyt.
"Ek het net besluit ek gaan nie dat dit my onderkry nie en weer stadig begin beweeg, en hier is ek nou. Drie groot sportgeleenthede later en ek sien beslis kans vir nog. My lyf is reg en ek het niks pyn nie."
Van Wyk-Spies se deursettingsvermoë en positiewe ingesteldheid maak haar 'n inspirasie vir sportliefhebbers in die streek en bevestig dat geen struikelblok te groot is vir iemand met ware vasberadenheid nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’