Cronje se tyd van 3:57:70 het gesorg vir 'n eerste keer dat `n atleet `n droommyl in die Klein-Karoo aflê.
Die organiseerder van die Klein-Karoo-straatmyl, Hans van der Veen, het Cronje na afloop van die wedloop lof toegeswaai.
"Johan het op eie onkoste aan ons wedloop kom deelneem en dit getuig van die atleet en mens wat hy is," het Van der Veen gesê.
Op sy beurt was Cronje vol lof vir Ettienne Plaatjies wat die tweede plek in die wedloop behaal het. Cronje het gesê dat Plaatjies lof verdien omdat die atleet vir driekwart van die wedloop die pas aangegee het.
Plaatjies het die droommyl net-net misgeloop met sy tyd van 4:01:08. Zolani Ngqaqa (NMMU) was in die derde plek met 04:08:40.
Van der Veen het ook vir Aifa bedank wat die byeenkoms se prysgeld borg. Die gebruiklike vakansie atletiekprogram wat verlede jaar `n baan- en veldbyeenkoms ingesluit het, moes vanjaar noodgedwonge aangepas word, deels weens `n tekort aan borge. Die verwagting is egter nou dat Cronje se vertoning landwye blootstelling aan die byeenkoms kan bied met belangstelling wat moontlik weer in plaaslike atletiekbyeenkomste sal opvlam.
Die volgende straatmylbyeenkoms vind in Hartenbos plaas, op 23 Desember. Daar word ook beplan om die reeks in 2015 uit te brei om `n fietsrybeen in te sluit.

ARTIKEL EN FOTO'S: JACQUES SWART, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'