Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Nedbank SWD-atletiekklub het Saterdag 14 Oktober die 25ste Meiringspoort 21,1 km-halfmarathon en 12,5 km-pretdraf oorheers deur in beide items 10 van die 12 podiumposisies los te hardloop.
Die halfmarathon is deur Lloyd Bosman (1:04:05) gewen, met Melissa van Rensburg (1:25:44) die eerste dame oor die eindstreep.
In die 12,5 km-pretdraf het Godwin Heyns (40:57) eerste klaargemaak, met Lana Theunissen (54:19) die eerste dame oor die eindstreep.
John April (1:09:39) en Lindile Tokota (1:13:07) het tweede en derde in die halfmarathon klaargemaak.
Anél van Wyk (1:26:29) en Liza Kingston (Nedbank OP-atletiekklub: 1:26:39) was die tweede en derde vroueatlete, wat die in halfmarathon oor die eindstreep gehardloop het.
Donavan Jantjies (42:15) en Anderson Ncube (42:24) het tweede en derde in die pretdraf klaargemaak. Hier was Marcelle van Tonder (tydelike nommer: 57:12) en Johanna Claassen (58:47) tweede en derde.
Die pretdraf en halfmarathon het 3 100 atlete van oor die land gelok.
Tradisioneel is die atlete reeds vanaf 04:30 die oggend met verskeie volstruistrokke van die NG Kerk De Rust se terrein, tot by die twee wegspringpunte in Meiringspoort aangery.
Met warm weersomstandighede voorspel vir De Rust, moes die atlete eers yskoue weer in die poort trotseer.
Toegedraai in komberse en met swartsakke oor hul bolywe, het hulle by die wegspringpunte agter rotse en in groepies gewag vir die skoot om 06:45 te klap.
Met die wegspring is die komberse net daar neergegooi, waar dit deur die organiseerders opgetel is om aan welsynsorganisasies geskenk te word.
Lees 'n vorige artikel: Meiringspoort halfmarathon groot sukses
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'