OUDTSHOORN ATLETIEKNUUS - 'n Groot eer het Oudtshoorn se meestersatleet, Johan Coetzer (62), verlede maand te beurt geval toe nasionale kleure tydens 'n spoggeleentheid in Kaapstad aan hom toegeken is.
Volgens Coetzer het slegs twee atlete van SWD vir nasionale meestersatletiekkleure gekwalifiseer wat Annetjie Botes van George, en homself ingesluit het.
Coetzer sê dat hy reeds in 2019 tydens die SA Meesters-atletiekkampioenskappe in Oudtshoorn vir nasionale kleure in die hoog- en verspringitems gekwalifiseer het. In albei items het hy ook die SWD-rekords verbeter.
Met sy wenafstand van 5,16m in verspring op dié dag het sy posisie op die wêreldranglys van meestetsatletiek, na 12de in die wereld en eerste plek in Afrika, verbeter.
Benewens hierdie prestasie kon hy ook daarin slaag om 'n silwermedalje in hoogspring te verwerf.
Coetzer sê dat sy volgende doelwit is om in 2024 weer nasionale kleure te behaal omdat hy dan 65 jaar oud sal wees wat beteken dat hy in 'n nuwe kategorie beoordeel sal word.
Intussen hou hy sy fiksheidvlakke op peil indien Covid-19 regulasies dit toelaat dat atlete vanjaar vrylik aan byeenkomste kan deelneem.
Coetzer se wenafstand van 5,16m in verspring het sy posisie op die wêreldranglys van meestersatletiek, na 12de in die wêreld en eerste plek in Afrika verbeter.
Coetzer seil oor die hoogspringlat.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'