MOSSELBAAI NUUS - Die 20-jarige Ryan Mphahlele (Tembisa) was ongetwyfeld die ster van die 2018 Eden Bestmed-Straatmylreeks. Al het hy sy derde straatmyl in vyf dae met 'n skrale 1,88 sekondes misgeloop, en so ook 'n kontant bonusbedrag van R5 000, het hy sy stempel in dié reeks behoorlik afgedwing. Mphahlele is ook gekroon as die Bestmed Kovsies se Gran Prix wenner, terwyl Thineke Cloete (Stellenbosch) in die vroueafdeling met die louere weggestap het.
Lloyd Bosman (Nedbank) en Elné Conradie (Hartenbos Drawwers) was onderskeidelik as die SWD Gran Prix-wenners gekroon.
Volgens Hans van der Veen, voorsitter van die Klein Karoo Atletiekfonds (KKAF), het verlede jaar se reeks 'n groei persentasie van 20% getoon, en was die eerste vier mans en eerste drie vroueatlete se wentyd van 2018 boonop beter as die wenners van 2017. Wikus Kotzé, direkteur van die Eden Bestmed-straatmylreeks, het in sy bedankingsrede die reëlingskomitee vir hul professionele reëlings geloof. Dave van der Walt, operasionele bestuurder van die KKAF, het ook die borge bedank wat die reeks moontlik gemaak het.
Die borge het Group Editors, Oudtshoorn Ford, Kovsies, Wes-Kaap department van kultuursake en sport, ASWD, KKI, Bestmed ,Nelson Mandela Madibaz Sport en EDENfm ingesluit.
EDENfm was ook verantwoordelik dat dié drie 2018 straatmylreekse lewendig uitgesaai kon word. In die proses het dié reeks bykans 250 000 plaaslike luisteraars bereik.
Van der Walt het ook die gesinchroniseerde samewerking met die verskillende verkeersdepartemente geloof, en veral ER24-nooddienste uitgesonder vir die uitstekende mediese diens wat hulle by al drie straatmylreekse gelewer het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'