Gallery
TUINROETE NUUS - Jerry Motsau, Amos Nyongo en George Kusche het die Bestmed Eden-straatmylreeks in die opeafdeling vir mans oorheers.
Motsau het Saterdag op Oudtshoorn die Klein-Karoo Bestmed-straatmyl been van die reeks met 'n droommyl (3:59.81) afgeskop.
Hy het al drie die bene gewen. Die NMU Bestmed-straatmyl het hy in 4:03.89 voltooi en die wenne afgerond deur die ATKV Hartenbos Bestmed-straatmyl in 4:08.59 voor Nyonga en Kusche klaar te maak.
Nyonga het in al drie straatmyle tweede plekke losgehardloop met Kusche derde in al drie.
In die vroueafdeling het Nicole Louw, Anuscha Nice en Simoney Weitsz mekaar opdraande gegee in die drie straatmyle.
Nice het Saterdag se straatmyl gewen, met Louw tweede en Weitsz derde. In George was Nice weer die eerste vrou oor die eindstreep, maar Weitsz het die bordjies verhang en voor Louw klaargemaak.
Dit was egter Woensdag op Hartenbos wat Louw haar fiksheid en spoed tot die uiterste beproef het en die Bestmed ATKV-straatmyl gewen het. Nice was tweede en Weitsz derde.
Slegs een fietsry-straatmyl het op Oudtshoorn plaasgevind. Die George been van die fietsry-straatmyle is weens reën gestop.
Louis Visser (jr.) was die wenner, met Marchal Hendricks tweede en Jacques van Staden derde.
In die vroueafdeling was Ashleigh Parsons eerste en Charné Dalton tweede.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'