TUINROETE NUUS - Die Eden-straatmylreeks betree vanjaar 'n nuwe tydvak met die insluiting van Knysna as een van die bene van die reeks van drie. Die ander twee, die Klein Karoo-straatmyl op Oudtshoorn en die ATKV-straatmyl op Hartenbos.
Hierdie reeks word weer onder die beskerming van die Klein Karoo Atletiekfonds (KKAF) en in vennootskap met ASWD, Eden-fietsry, Knysna-munisipaliteit, Wes-Kaapse departement kultuursake en sport en die ATKV aangebied. Volgens Dave van der Walt, operasionele bestuurder van die KKAF het die drie jaar lange borgskap van Bestmed ten einde geloop en is die organiseerders in die proses om 'n nuwe ankerborg te vind.
Die afgelope drie jaar het die fietsrykomponent bygekom en verdere opwinding verskaf. Top 1 500/myl-atlete van oor die Suid-Kaap is uitgenooi om hul staal te kom wys in dié reeks.
Die uniekheid van hierdie reeks lê reeds in die feit dat elke dorp sy straatmyl-identiteit behou, maar tog deel vorm van die Eden-straatmylreeks deurdat die Grand Prix-wenner oor al drie byeenkomste bepaal word.
Op 16 Desember word die eerste been van die reeks op Oudtshoorn (Klein Karoo-straatmyl) aangebied.
Die tweede been vind op Knysna op 18 Desember plaas en staan bekend as die Knysna-straatmyl.
Die derde been vind op Vrydag 20 Desember by die ATKV-terrein op Hartenbos plaas en staan nou bekend as die ATKV-straatmyl.
Vanjaar borg die Vrystaatse Universiteit (Kovsies) weer die Grand Prix deel van die reeks. Die mans- en damesatleet wat die meeste punte oor die drie bene versamel, kan met die Grand Prix-prys wegstap.
Die Atletiekstraatmyl word in die volgende kategorieë aangebied: Sub-juniors, Juniors, 40+ en Elite/Ope.
Daar is ook vanjaar addisionele pryse vir die eerste Eden-atlete oor die wenstreep.
Die Fietsry-mylrenne se kategorieë is o. 9, o. 11 en o. 13 en ook o. 15 en o. 17. Dan is daar ook die Elite-afdeling, o.23, Vet -34 en Vet 35- 49, Vet 50+ waarin meegeding word.
Inskrywings word aanlyn gedoen. Alle reëlings rondom die byeenkomste en akkommodasie kan ook op dié webtuiste gevind word.
Vir enige navrae kan kontak asseblief vir Hans van der Veen by hvdveen1966@gmail.com of Dave van der Walt by 082 773 4901.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'