Video
OUDTSHOORN NUUS - Equin Josephs (16) 'n leerder aan Langenhoven Gimnasium in Oudtshoorn het al sedert hy 'n jong seun was, 'n uitson-derlike talent in hoogspring.
Hy het tydens die afgelope skoolvakansie 'n derde plek in die seuns o. 18-hoogspring by die ASA atletiekbyeenkoms in Germiston behaal.
Wat die prestasie nog meer besonders maak, is dat hy tans nog 'n o. 17-atleet is, en reeds derde in die land in die o. 18-afdeling geplaas is.
Hy gaan later vanjaar die Wes-Kaap, en natuurlik Langenhoven Gimnasium, by die SA skole-atletiekbyeenkoms verteenwoordig. Daar word verwag dat hy nog hoër hoogtes gaan bereik, asook medaljes Karoo toe gaan terugbring.
Volgens hom het die gogga hom op laerskool al gebyt toe hy besef dat hy hoog kan spring. Hy het SWD-kleure verwerf toe hy slegs o. 10 was.
In 2025 het hy by die SA skolebyeenkoms, met 'n hoogte van 1.89 m, 'n tweede plek behaal. Hy het ook in 2025 by Kwagga Top-10 'n hoogte van 1.93 m gespring. Dus was hy verlede jaar tweede in die land.
Equin se persoonlike beste hoogte vir 2026 is 2.00 m wat hy tydens die Wes-Kaapse atletiekkampioenskappe gespring het. Hy kon ongelukkig nie die volgende hoogte van 2.05 m oorspring nie. Hy mik tans vir 2.10 m vir die seisoen.
VIDEO: Onderhoud met Equin Josephs
Die SA hoogspringrekord vir mans o. 18 is opgestel deur die voormalige Jacques Freitag met 'n hoogte van 2.38 m.
Josephs gaan nou op 28 April in Potchefstroom aan die SA skolebyeenkoms deelneem waar hy sy bes gaan gee om 'n eerste plek te behaal.
Volgens sy afrigter, Monja Serdyn, is hy 'n vriendelike en nederige atleet wat sy passie voluit uitleef.
"Hy is gedissiplineerd en bereid om die ekstra myl te stap om sy doelwitte te bereik. Opgee is nie deel van sy woordeskat nie. Hy droom groot en mik hoog, want dit is hoe hy sy sukses behaal."
Monja Serdyn en Equin Jacobs. Foto: Louise Mouton
In gesprek met Josephs noem hy dat hy homself uit moeilike omstandighede gehaal het, en dat sport baie deure vir hom oopgemaak het, en hopelik verder gaan oopmaak.
"Ek wil kyk wat ek alles in hoogspring kan bereik en hoe ver ek in die sport kan groei. Werk elke dag hard, want jy sal die vrugte daarvan pluk. Moet nooit 'n verloor sien as 'n verloor nie, dit is net 'n manier om vir jou te wys om nog 'n bietjie harder te werk."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’