OUDTSHOORN NUUS - Eden-tweekamp het 'n uiters suksesvolle 2024/25-seisoen agter die rug.
Volgens Dave van der Walt is hulle reeds besig met beplanning vir nog 'n besige seisoen wat reeds in Oktober 2025 afgeskop het.
"Behalwe vir die twee inter-provinsiale byeenkomste van 1 November 2025 en by Highgate op 7 Februarie is Eden-tweekamp die gasheer vir die 49ste kampioenskappe wat op 20 en 21 Maart in Oudtshoorn aangebied word. Daarbenewens bied Eden-tweekamp nog twee proewebyeenkomste, vier ligabyeenkomste, die Wimpy-dubbelsbyeenkoms, Eden-kampioenskappe, drie ontwikkelingsklinieke en 'n kapasiteitswerskwinkel aan. Om reëlings in plek te kry word gereelde komiteevergaderings gehou, asook 'n strategiese beplanningsvergadering."
Wat is tweekamp?
Dit bestaan uit twee dissiplines, hardloop (400 tot 800 m) en swembad-swem (25 tot 100 m). Die seisoen strek vanaf 1 September tot April.
Dit dek ouderdomsgroepe vanaf 7 tot 80+ vir beide mans en vroue.
"Dit is werklik 'n sport vir gesinne wat lewensvaardighede bied. In Eden word al die byeenkomste (uitgesonder die interprovinsiale byeenkomste) op Dinsdagmiddae gehou om atlete die geleentheid te bied om ook nog ander aktiwiteite te beoefen," noem Van der Walt.
Vir meer inligting of kontak Dave van der Walt by 082 7734 901.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’