TUINROETE DISTRIK ATLETIEKNUUS - Die Eden-straatmylreeks is weer vanjaar terug in al sy glorie en beloof om atletiek van topgehalte op te dis.
Soos in die verlede bestaan die 2021-reeks weer uit drie bene - die Klein-Karoo-straatmyle in Oudtshoorn (16 Desember), die Swartberg-baanatletiek en myle in Oudtshoorn (18 Desember) en die ATKV-straatmyl in Hartenbos.
Met die vertrek van Bestmed as ankerborg is daar nou weer onderhandelings met 'n moontlike nuwe ankerborg aan die gang. Die ander borge wat reeds aan boord is, is NWU, UOVS, Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, ATKV Hartenbos, EDENfm en UNITED Paint (Mosselbaai-tak).
Ander sekondêre borge is Kango-grotte, Oudtshoorn Ford, Cape Karoo International en Kleinplaas-vakansieoord.
Vanjaar se straatmyle sal in die sub-juniors, juniors, 40+ en elite-ope kategorieë aangebied word. Daar is ook weer pryse vir die eerste SWD-atlete oor die wenstreep.
Die inskrywings word aanlyn by www.edenmiles.co.za gedoen en aansoeke is alreeds oop. Alle reëlings rondom die byeenkomste en akkommodasie kan ook op die webtuiste gevind word.
Vir enige navrae kontak Hans van der Veen by hvdveen1966@gmail.com of Dave van der Walt by 082 773 4901.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'