OUDTSHOORN - Die bekende marathonatleet van Welkom, Louis Massyn (70), het onlangs deelgeneem aan 'n pretwedloop in Oudtshoorn wat op die tradisionele Kango-marathon-roete gedraf is.
Massyn is 'n veteraan van 47 Comrades en 44 Two Oceans-marathonne (agtereenvolgens) onder die blad - 'n rekord vir enige atleet in Suid-Afrika.
Die wedloop waarin Massyn op die Kango-marathon-roete gedraf het, is deur die plaaslike atleet, Louis Oosthuizen gereël.
Bykans 40 plaaslike atlete het dié Sondag deelgeneem en vanaf 05:30 reeds by die Kango-grotte weggespring.
Massyn vertel dat hy einde 1973 die Comrades-marathon vir die eerste keer in 'n tyd van net so oor die tien ure afgelê het. Hy spog met 'n algehele beste Comrades in 1981 met 'n tyd van ses uur en 25 minute.
'n Interessante feit is dat Massyn in 1981 ook dieselfde 42 km Kango-marathon-roete gehardloop het wat volgens hom sy beste tyd (2 uur 33 minute) ooit was.
"Dis ironies dat ek nou na al die jare weer op een van my gunsteling roetes kon deelneem en dit weereens redelik blitsig aflê. Als te danke aan my goeie vriend en oud-Welkommer, Louis Oosthuizen, wat my genooi het. Met my aankoms het meeste van die plaaslike atlete reeds my marathon geskiedenis geken en my omtrent op die hande gedra. Ek is maar 'n nederige mens en Oudtshoorn se mense en sy gasvryheid sal my altyd bybly."
Tydens Massyn se week lange verblyf in Oudtshoorn het hy ook die Swartbergpas vir die eerste keer vanaf Oudtshoorn se kant, uitgedraf.
"Hierdie roete was nog altyd iets wat ek van my bucket list wou afkry, en nou het ek," skerts hy. Volgens hom beplan hy om in sy leeftyd al ses van die wêreld se grootste marathonne naamlik Chicago, Boston, en Tokyo te draf.
Berlyn, New York en Detroit het hy reeds al gedraf en vir die ander drie marathonne het hy reeds uitnodigings voor ontvang wat hy ongelukkig weens logistieke redes van die hand moes wys.
Dit sal egter volgende jaar 'n realiteit word, sê hy. Vir nou is sy fokus om die inenting teen Covid-19 te verkry wat hom sal in staat stel om internasionaal mee te ding.
Op 'n vraag wanneer hy eendag sy drafskoene gaan ophang, het hy geantwoord: "Wanneer my bene die dag stompies is."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'