OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-infanterieskool bied op Saterdag 1 Maart die 44ste Cango Marathon aan.
Hierdie marathon is een van die mees gesogte wedlope onder atlete in Suid-Afrika en is die tweede grootste en oudste marathon in die Suid-Kaap.
Baie atlete gebruik die wedloop as 'n kwalifiserende wedloop vir die Two Oceans Marathon en die Comrades Marathon, sowel as 'n geleentheid om persoonlike rekordtye te verbeter.
Verwagte deelnemersgetalle:
- 42,2 km: ± 1 400 atlete
- 21,1 km: ± 700 atlete
- 21,1 km stapafdeling: ± 50 deelnemers
Die roete strek oor pragtige landskap en is oorwegend afdraand, wat dit ideaal maak vir atlete wat 'n kwalifiserende tyd vir die Two Oceans of Comrades Marathon wil behaal. Kilometerpale sal elke kilometer aangedui word, en daar sal verversingspunte elke 3 km wees - met korter tussenposes van 2 km gedurende die laaste 10 km.
Wedloopinligting
Beginpunte
- 42,2 km: Begin by die Kango-grotte. Vervoer na die beginpunt vertrek om 04:00 vanaf die Infanterieskool se paradegrond.
- 21,1 km en 21,1 km stapafdeling: Begin by Ou Tol op die roete na die Kango-grotte. Vervoer vertrek om 05:00 vanaf die Infanterieskool se paradegrond.
Die Cango Marathon is die oudste en tweede grootste marathon in die SWD-streek en lok jaarliks byna 2 000 deelnemers. Dit word beskou as een van die toptien kwalifiserende wedlope vir die Two Oceans en Comrades en is die enigste marathon in die SWD-streek voor die Two Oceans Marathon.
Bykomende geleentheid
Atlete en gemeenskapslede kan ook deelneem aan 'n 5 km-pretloop / stap op Vrydag 28 Februarie om 18:00, vanaf die Infanterieskool se sportterrein. Alle voltooiers ontvang medaljes, en daar is verskeie gelukstrekkings op die spel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’