OUDTSHOORN NUUS - Die 45-jarige Booi Salman, wie se drafskoene deur sy werkgewer PSP Timbers geborg word, het Saterdag se 188ste Oudtshoorn-parkrun by die Surval-olyflandgoed juis met dié einste nuwe paar skoene in 'n blitsige tyd van 17 minute en 38 sekondes gewen.
Sy vinnigste tyd vir die vyf km is 16 min en 46 sek.
Patrick Peters van die Infanterieskool was Saterdag tweede en JG Marais derde.
Teresa Bester, die eerste vrou by die wenpaal, was met 'n tyd van 22 min en drie sekondes algeheel vyfde.
In die junior-afdeling het Hannes Oosthuizen (14) eerste geëindig.
Franciska Deck en Leonie Stuurman het ook Saterdag mylpale bereik deur onderskeidelik hul 100 ste en 50ste wedlope te voltooi.
Die 89-jarige Jan-Hendrik Zeelie het ook vandeesweek die oudste deelnemer geword wat aan die Oudtshoorn-parkrun deelgeneem het. Hy het Saterdag sy vyfde parkrun voltooi met 'n persoonlike beste tyd van 42 min 52 sek.
Zeelie kon daarin slaag om uit 'n totaal van 104 deelnemers in die 68 ste plek te eindig.
"Ek is 89 jaar jonk en geniet die stappery terdeë, het Zeelie skertsend gesê.
Die groep vrywilligers wat die weeklikse parkrun moontlik maak.
Jan-Hendrik Zeelie. Foto's: Garnett Wicomb
Saterdag se beste tye is soos volg:
Booi Salman (17:38), Patrick Peters (19:56), JG Marais (20:45), Greens Groenewald (21:14), Teresa Bester (22:03), Christo Niemand (22:32), Justin Olivier (23:43), Newald Groenewald (24:24), Henry Carstens (24:37), Phillip du Plessis (24:47), Albertus Kennedy (25:48), Carina Burger (25:53), Francois Goosen (26:33), Mauritz Lamprecht (27:13), Matthys Myburgh (27:18), Abraham Hendricks (27:49), Louis Hoffman (28:15), William Deck (28:27) en Francois le Roux (28:30).
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'