OUDTSHOORN NUUS - Bestmed, een van Suid-Afrika se leidende mediese hulpskemas, het hul borgskap vir jaarlikse Eden-straatmylreeks vergroot, wat te weeg gebring het dat die fietsrykomponent verder uitgebrei word met 'n kermesse by die NMU-wedloop op die George-kampus.
Dit word weer onder die beskerming van die Klein Karoo Atletiekfonds (KKAF) en in vennootskap met ASWD, Eden-fietsry, NMU en die ATKV aangebied.
Dave van der Walt, operasionele bestuurder van die KKAF sê: "Die vennootskap ondersteun die visie van 'n gesonde leefstyl en as sulks is hierdie borgskap net tot voordeel van sport en gesondheid in die Eden-distrik."
Na 'n beskeie begin, as deel van die Oudtshoorn Atletiek Vakansiebyeenkoms (ou Geelbladsye-byeenkoms), het die straatmyl idee gegroei tot 'n straatmylreeks, wat gedurende Desembervakansies in drie wedlope in drie Eden-dorpe aangebied word.
Die afgelope twee jaar het die fietsrykomponent bygekom en 'n nuwe kleur aan die straatmylreeks gegee.
Vanjaar word daar ook nog spesiale gemeenskapsprojekte op sekere strande deur Bestmed aangebied, om die algemene vakansiepubliek ook te betrek. Vir eerste keer word medaljes ook toegeken.
Met 'n geldbeurs van R80 000, gaan die top 1 500/myl-atlete beslis na die Eden-distrik stroom.
Die uniekheid van hierdie reeks lê reeds in die feit dat elke dorp sy unieke straatmylidentiteit behou maar tog deel vorm van die Bestmed Eden-straatmylreeks, deurdat die Grand Prix-wenner oor al drie byeenkomste bepaal word.
Die eerste been van die reeks, die Bestmed Klein Karoo-straatmyl, word op Oudtshoorn aangebied.
Dit vind op Saterdag 16 Desember in Baron van Reedestraat plaas.
Die tweede been, die Bestmed-straatmyl, vind op Maandag 18 Desember op die NMU George-kampus (Saasveld) plaas.
Die derde been, die Bestmed ATKV-straatmyl, vind op 20 Desember by die ATKV-terrein in Hartenbos plaas.
Vanjaar borg die Vrystaatse Universiteit weer die Grand Prix deel van die reeks. Die mans- en damesatleet wat die meeste punte oor die drie bene versamel, kan met die groot prys wegstap.
"Soos in die verlede, poog die organiseer-ders om die top myl- en 1 500 m-atlete in Suid-Afrika hierheen te lok. 'n Spesiale poging word aangewend om alle universiteitklubs ook te nooi," sê Van der Walt.
In die afgelope drie jaar is vyf droommyle (sub 4 minute), deur Johan Cronjé (3:52.60), Dumisane Hlaselo (3:55,71), Elroy Gelant (3:56,74) en Nyongo Amos (3:55,60 en 3:52,99) in die reeks gehardloop.
Vanjaar word fietsry ook op NMU as 'n kermesse aangebied. "Die mylsnelren op Oudtshoorn gaan beslis van die land se topfietsryers trek en daar word onderhandel om die Bestmed-span hier te kry."
Kategorieë
Die atletiekstraatmyle word in die volgende kategorieë aangebied: Sub-juniors, juniors, 40+ en elite/ope. Daar is ook vanjaar addisionele pryse vir die eerste Eden-atlete oor die wenstreep.
Die Oudtshoorn fietsry mylren, asook die kermesse [NMU] se kategorieë is o.9, o.11, o.13, o.15 o.17, elite, o.23, veterane (34 en jonger), veterane (35- 49) en veterane (50+).
"Sonder borge van formaat kan so 'n reeks beslis nie aangebied word nie."
Aanvullend tot die borge reeds genoem, is EDENfm, Group Editors, Oudtshoorn Ford, Klein Karoo Internasionaal.
Die inskrywings word aanlyn gedoen en sal binnekort oop wees. Besoek gerus www.edenmiles.co.za.
Alle reëlings rondom die byeenkomste en akkommodasie kan ook op dié webtuiste gevind word.
Vir enige navrae, kontak die organiseerders deur www.edenmiles.co.za
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'