Plaatjies het stof geskop in die oë van sy teenstanders in die 3 000 m. Met `n tyd van 8:20:91 het hy die veld oorheers met sy naaste teenstander Siyabulela Mtsha wat die wedloop in 8:38:55 voltooi het. Plaatjies en nog `n plaaslike atleet, Lloyd Bosman, het ook in die myl goed vertoon. Hier het Bosman gewen met 'n tyd van 4.06.92, gevolg deur Jerry Motsau (Pukke) in 4:10:73.
Hiermee het Plaatjies ook die algehele derde plek tydens die byeenkoms verower. Prysgeld is aan die top tien atlete van die byeenkoms toegeken, aan die hand van die APE-puntetabel. Bosman beklee die algehele vierde plek.
Die algehele wenner van die byeenkoms was Rodwell Ndlovu van die Universiteit Wes-Kaap (UWK) na sy oorwinning in die mans 400 m.
Die 21-jarige atleet het `n uitstaande vertoning gelewer deur die wedloop te wen in `n tyd van 47:52 sekondes, nie te ver van sy beste nie.
Ndlovu is wyd bekend as `n atleet wat bestendige vertonings lewer met die beste tyd van sy seisoen 47:26 sekondes wat op 20 Maart in Stellenbosch aangeteken is. Om die man se lof selfs verder te besing: Sy laaste deelname voor Oudtshoorn was op 27 April in Johannesburg aan die Studentekampioenskappe waar hy die eindstreep in 47:51 sekondes oorgesteek het.
Gideon Trotter, die 2011 Afrika Junior kampioen, het die mans 200 m in 20.34 sek gewen met Kovsie spanmaat Werner Meyer (22:24 sek) in die tweede plek en Asford Motsau (22:64 sek) derde.
Twee dames bevind hulself ook onder die top tien. Denielle en Veroeschka Strauss, twee sussies van Bloemfontein, het aan die 100m hekkies deelgeneem en die wenstreep onderskeidelik in 15:02 en 15:08 oorgesteek.
Na afloop van die byeenkoms het Hans van der Veen, wat aan die stuur van die reëlingskomitee gestaan het, die byeenkoms beskryf as een wat geleenthede skep vir jong en opkomende atlete. In die nadraai van die onttrekking van Geelbladsye as hoofborg van die reeks was die byeenkoms in Oudtshoorn in gedrang met die byeenkoms in Port Elizabeth wat reeds in die slag gebly het.
Die eerste tien plekke was as volg: 1 - Rodwell Ndlovu (UWK – 400 m); 2 - Gideon Trotter (Kovsie – 200 m); 3 - Ettienne Plaatjies (Nedbank – 3000 m); 4 - Lloyd Bosman (Nedbank - Myl); 5 - Werner Meyer (Kovsie – 400 m); 6 - Denielle Strauss (Bloem – 100 mh); 7 - Rudolph Erasmus (UJ – 100 m); 8 - Siyabulela Mtsha (EPA – 3 000 m); 9 - Lucas Bothebutle (Pukke – 3 000 m); 10 - Veroeshka Strauss (Bloem – 100 mh).

Die byeenkoms se toptien atlete met verteenwoordigers van die onderskeie borge. Foto: Hans van der Veen