OUDTSHOORN ATLETIEKNUUS - Oudtshoorn se SWD-atlete, Johann Coetzer, Marée Truter en Frans Kalp, het verlede naweek uitstekend by die Vrystaat Meesters - atletiekkampioenskappe in Bloemfontein gevaar.
Tydens hierdie byeenkoms het Coetzer sy pragprestasies in die hoog- en verspring vir mans (60 jaar plus) voortgesit om vir 'n tweede keer die kwalifiserende standaard vir nasionale kleure te behaal toe hy in die verspring-afdeling n afstand van 4,92 meter gespring het.
Met hierdie sprong het hy 'n goue medalje in die verspring verower. Coetzer het reeds agt meestersrekords in sy loopbaan opgestel.
Kalp, wat tans sukkel met 'n kuitspierbesering, kon steeds daarin slaag om silwermedaljes in die mans 100 m- en 200 m-naellope (60 jaar plus) los te hardloop.
Hy het reeds sy nasionale kleure in die 200 m en 400 m-naellope verwerf. In sy loopbaan het hy altesaam 19 provinsiale meesters-atletiekrekords opgestel.
Truter, het 'n silwermedalje in die vroue 100 m ingepalm nadat sy twee maande gelede, danksy haar afrigter, Blauw Fiks, haar terugkeer na die atletiekbaan gemaak het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'