KLEIN KAROO ATLETIEK NUUS - Die Klein-Karoo-straatmyl het op 'n hoogtepunt begin met 'n rekordgetal van vier droommyle wat Maandag op Oudtshoorn gehardloop is. Atlete hardloop 'n droommyl wanneer hulle onder vier minute dié straatmyl voltooi.
Verlede jaar se wenner Ryan Mphahlele, het vanjaar wéér gewen met 'n tyd van drie minute en drie en vyftig sekondes, slegs 0,2 sekondes stadiger as die roeterekord en vinnigste tyd wat nóg in die reeks aangeteken is.
Sy spanmaat en nuweling Keleso Mkhonoana, het tweede geëindig terwyl Jerry Motsau ('n vorige wenner) in die derde plek geëindig het. Die belowende junior Luan Munnik (NWU) het die eerste junior geword om 'n droommyl by die Eden-straatmylreeks te hardloop.
Simonay Weitsz het die ope afdeling vir vroue in 2014 en 2015 gewen, maar het sedertdien gesukkel om haar vorm te herwin en het verlede jaar se reeks weens 'n besering misgeloop. Maandag het sy egter 'n welkome terugkeer tot die bopunt van die rostrum gemaak deur te wen in vier minute en sewe en veertig sekondes.
Tyler Beiling was tweede gevolg deur die 16-jarige Danielle Verster in die derde plek. Nog 'n junior en vorige wenner van die junior afdeling, Nadia Potgieter, het vierde in die ope kategorie vir vroue geëindig.
Simonay Weitsz (regs). Foto's verskaf
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Klein Karoo nuus'